Emfuleni Munisipale Raad – Die drama duur voort
'n Afgeboekte voorsittendebeampte, provinsiale ingryping, 'n nuwe datum vir die raadsvergadering. In Emfuleni is daar altyd drama.
VEREENIGING – Om Alice in Wonderland aan te haal. Dit word “curioser and curioser.” Die Emfuleni-raadsvergadering wat Maandag in chaos geëindig het, sou vandag, 26 November, plaasvind.
Laat gisteraand het die nuus gebreek dat die vergadering uitgestel is na 27 November nadat die voorsittende beampte en munisipale bestuurder, April Ntuli, ʼn mediese sertifikaat ingehandig het. Hy is afgeboek van 25 – 27 November.
Die Gautengse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het nou ingegryp. MEC Jacob Mamabolo het mnr. Tshepo Makola, hoofbedryfsbeampte en voormalige waarnemende stadsbestuurder by die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit, aangestel om môre se vergadering te lei om ʼn Speaker te kies.
Die VF Plus koukusleier in Emfuleni, rdl. Hein van der Lith se kommentaar op die uitstel van die vergadering was: “Ons het dit verwag.”
Die Koalisie bestaande uit die DA, VF Plus, Active Citizens of South Africa (ACSA), African Transformation Movement (ATM), Tau Dia Rora Cultural Lekgotla (TDA) en Afrika MAYIBUYE MOVEMENT het in ʼn brief aan die Gautengse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake gevra dat ingryping moet plaasvind. “Hy (Makola) weet wat hy doen. Hy is deur die MEC aangewys. Dis wat ons wou gehad het,” het Van der Lith gesê.
Hopelik sal daar môre ʼn burgemeester, speaker en hoofsweep verkies word sodat die sewende administrasie vir die Emfuleni Plaaslike Regering die diens kan begin lewer waarvoor die kiesers gestem het.
