Net span nouer om Vaal se roofkykers
Na raming besoek byna 'n kwart van Suid-Afrikaners roofkykwebwerwe.

VANDERBIJLPARK – Skaars ‘n maand nadat ‘n man van Sebokeng in hegtenis geneem is omdat hy na bewering onwettige DStv-intekeninge verkoop het, word strenger maatreëls op nasionale vlak oorweeg om digitale seerowery te bekamp.
Na raming besoek byna ‘n kwart van Suid-Afrikaners roofkykwebwerwe.
Dr. Jacob Medupe, adviseur van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie, het verlede week aan die komitee gesê dat sowat 23% van Suid-Afrikaners van roofkykwebwerwe gebruik maak.
Dié webwerwe ontvang na raming 168 miljoen besoeke per jaar.
Die komitee ondersoek onder meer die moontlikheid om internetdiensverskaffers te verplig om toegang tot webwerwe wat onwettig televisieprogramme, rolprente en sportuitsendings versprei, te blokkeer. Digitale seerowery is egter ook op plaaslike bodem ‘n werklikheid.
Vaalweekblad se susterskoerant Sedibeng Ster het op 19 Oktober berig dat ‘n man van Sebokeng op 15 Oktober in hegtenis geneem is tydens ‘n gesamentlike polisie-operasie deur die kubermisdaadeenheid en MultiChoice se forensiese ondersoekers.
Die man het glo onwettige DStv-intekeninge langs die Golden Highway en in Sone 13 verkoop.
Toegangskodes is na bewering via WhatsApp aan kliënte gestuur. Twee winkels in Boitumelo en die verdagte se woning is deursoek.
Daar is onder meer op TV-bokse, skootrekenaars, kwitansieboeke en eksterne hardeskywe beslag gelê.
Die man is van die oortreding van die Wet op Kubermisdade aangekla. Die polisie ondersoek ook moontlike geldwassery.
Die jongste stand van die strafsaak kon nie vasgestel word nie.
Intussen beywer MultiChoice hom vir regulasies wat internetdiensverskaffers sal verplig om roofkykwebwerwe te blokkeer, selfs wanneer die operateurs daarvan hul webadresse verander.
Lara Kantor, MultiChoice Suid-Afrika se hoofbestuurder van regulatoriese aangeleenthede, het tydens ‘n mediabedryfsbyeenkoms in Kaapstad gesê dat sommige onwettige stromingsdienste so professioneel voorkom dat verbruikers nie eens besef dat hulle vir ‘n onwettige diens betaal nie.
Een van die struikelblokke in die stryd teen digitale seerowery is dat Suid-Afrika se Wet op Outeursreg uit 1978 dateer, lank voordat die internet en aanlyn stromingsdienste deel van huishoudings se daaglikse lewe geword het.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Internetdiensverskaffers waarsku egter dat die blokkering van webwerwe ook onbedoelde gevolge kan hê, waaronder die blokkering van wettige webwerwe.
Die vereniging dring daarom aan op duidelike wetgewing en geregtelike toesig. Die bekostigbaarheid van wettige stromingsdienste het ook tydens die parlementêre besprekings ter sprake gekom.
Benewens die moontlike blokkering van webwerwe word daar gekyk na die sluiting van onwettige ondernemings, die ontwrigting van hul geldvloei en die beskikbaarstelling van meer bekostigbare wettige alternatiewe.
Vir verbruikers wat onwettige intekeninge koop, kan die voorgestelde maatreëls beteken dat hulle toegang tot die dienste waarvoor hulle betaal het, verloor.
‘n Nuwe studie deur die Buro vir Marknavorsing oor die omvang en ekonomiese impak van digitale seerowery in Suid-Afrika sal na verwagting op 7 Desember bekend gemaak word.
