Local newsNews

Seuntjie al ‘n maand in koma na byna-verdrinking

Ouers slaap snags in motor om naby hom te wees

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Tweejarige seuntjie van die dorp, Auden Lamprecht, veg al ‘n maand in die hospitaal nadat hy kort voor Kersfees in ‘n swembad geval en ‘n geruime tyd sonder suurstof was.
Sy geskokte ma, Chanell, het hom uit die water geruk maar ondanks haar verbete pogings om noodbehandeling toe te pas, het hy breinstambeserings opgedoen en sal moontlik serebraal gestremd wees.

Klein Auden word sedert die voorval op 22 Desember 2023 in die Netcare Alberton Hospitaal behandel. Sy ma is elke dag by die hospitaal en pa Jacques Lamprecht, wat op ‘n varkplaas buite Vereeniging werk, sien hom darem twee keer per week op sy af dae. Weens die hoë koste van brandstof slaap hulle snags dan gewoonlik in hul voertuig buite die hospitaal om hul ritte tussen Alberton en Vanderbijlpark te beperk.

Auden gaan na verwagting binnekort ontslaan word en verder deur sy ouers in Vanderbijlpark versorg word totdat hy na ‘n rehabilitasiesentrum kan gaan. Die ouerpaar het wel ‘n hospitaalplan, maar dit is nou uitgeput. Familie en vriende het intussen ‘n Back-a-Buddy-rekening vir Auden geopen in die hoop dat mense sal bydra om noodsaaklike rehabilitasietoerusting te kan koop, en om die uitstaande hospitaalrekening te kan betaal.

Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan ‘n inbetaling doen in hierdie rekening: Capitec, C. STRYDOM, 1683221735, Spaarrekening.
Besoek Auden se Back-a-Buddy-blad by hierdie skakel om meer oor die tragedie te lees of om ‘n bydrae op die blad te maak: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/auden-lamprecht-5817359056711185893
* Lees die volledige berig in Vrydag se Vaalweekblad (26 Januarie).

Klein Auden in sy hospitaalbed.
Klein Auden Lamprecht, wat tans in die Netcare Alberton Hospitaal behandel word.

 
Back to top button