News

Vermeende swendelaar wéér aangekeer, wéér op borgtog vrygelaat

Privaatondersoekers meen dit is verstommend hoe Emile de Witt, ‘n man wie se naam met verskeie bedrogsake verbind word, keer op keer op borgtog vrygelaat word.

*Die storie het eerste in die Vaalweekblad van 8 Maart verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste plaaslike nuus.

VANDERBIJLPARK . – ‘n Man van Vanderbijlpark wat daarvan beskuldig word dat hy minstens drie mense uit hul huise geswendel het, staan nou tereg op ‘n bykomde klag van bedrog.

Die 35-jarige Emile de Witt is Vrydag, 1 Maart by die Barrage-polisiekantoor aangekeer toe hy daar aangemeld het as een van sy borgvoorwaardes vir ‘n onverwante saak.

De Witt is in die Barrage-polisieselle aangehou en later na die Brackendownspolisiestasie verskuif.

Verlede Maandag het De Witt vlugtig in die Palm Ridge-hooggeregshof verskyn.

Emile de Witt is gereeld in die hof. Argieffoto: Christiaan Cloete

Hy is op borgtog van R1 500 vrygelaat.

Volgens Morney Vos, ‘n privaatondersoeker wat vir die privaatspeurder Mike Bolhuis werk, hou die saak verband met ‘n bedrogklag wat ‘n prokureur teen De Witt aanhangig gemaak het.

Daar word beweer dat De Witt saam met ander betrokke was by ‘n bedrogspul waartydens eienaarskap van maatskappye wat aan ‘n Albertonse prokureur behoort, by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) verander is.

Banke is glo later genader om toegang tot die maatskappye se bankrekeninge te kry.

Die bank het glo onraad vermoed en die prokureur bedtyds daarvan ingelig.

Die man moes glo baie geld spandeer om weer die maatskappye onder sy eie naam te kry.

Volgens Vos word nog inhegtenisnames in verband met dié saak verwag.

Emile de Witt van Vanderbijlpark. Foto: Verskaf

 

Die privaatondersoeker Mike Bolhuis, wat al ‘n geruime tyd op De Witt se spoor is, het na afloop van De Witt se nuutste inhegtenisname gesê: “Ons is verheug deur die publiek se toetrede en dankbaar vir mense wat ons aanhoudend op hoogte hou en klagtes indien oor Emile de Witt. Baie mense het ons al genader oor hierdie man.”

Bolhuis sê hy en sy span is verbaas dat De Witt weer so vinnig op borgtog vrygelaat is in die lig van al die klagtes wat hulle tot dusver ontvang het en die sake wat tans teen De Witt hangend is.

Ons is verbaas dat Emile de Witt so vinnig weer op borgtog vrygelaat is in die lig van al die klagtes wat ons tot dusver ontvang het en die al sake wat tans teen De Witt hangend is.

Hy het egter die polisie geloof vir hul ondersoekwerk.

“Hy is al verskeie kere in hegtenis geneem maar word elke keer op borgtog vrygelaat,” sê Bolhuis.

Volgens Bolhuis gaan hy en sy ondersoekers die aangeleentheid met hoër vlakke opneem om te kyk of alles korrek gedoen is.

Bolhuis het ‘n beroep op mense gedoen wat deur De Witt ingeloop is, om met sy ondersoekspan in verbinding te tree.

Volgens Bolhuis sal hy en sy onderssoekers slagoffers bystaan met die lê van kriminele sake sodat dit behoorlik ondersoek kan word. Slagoffers kan vir Morney Vos by 066 212 5193 skakel.

Die privaatondersoeker Mike Bolhuis is op Emile de Witt se spoor. Foto: www.mikebolhuis.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button