News

‘Mense glo steeds ek het my ma vermoor’

Hy is vrygespreek van die moord op sy ma, tog glo mense steeds hy het haar vermoor.

Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (3 -9 Mei) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – Hy is Januarie, na ‘n lang uitgerekte hofsaak wat langer as ‘n jaar geduur het, van die moord op sy ma, Christine Charlotte Fenn (67) vrygespreek.

Tog is daar volgens Grant du Toit (48) steeds mense wat steeds glo dat hy sy ma doodgemaak het.

Dít ten spyte van die feit dat die staat geen tasbare bewyse kon vind om hom met die moord te verbind nie en dat ‘n medebeskuldigde erken het dat Grant niks met die moord te doen gehad het nie.

Grant du Toit, vroeër tydens die hofsaak. Foto: Christiaan Cloete
Die vermoorde Charlotte Fenn (67). Foto: Verskaf

Du Toit het vroeër onlangs openlik met Vaalweekblad gesels by die hof in Palm Ridge waar sy ma se vermeende moordenaars, Quinton Edgar (52) en Lindsay Kirton (32) vir die moord verhoor word.

“Mense sien my en sê steeds: ‘Kyk, daar gaan daai ou wat sy ma doodgemaak het,’” vertel Grant.

Hy sê: “Ek het vir lank gewonder waarom doen hulle (Edgar en Kirton) dit? Waarom het hulle my by die hele ding ingetrek?”

Grant sê hy het van die begin af nie die bogenoemde paartjie, wat op sy ma se Houtkop-kleinhoewe in Sonlandpark loseer het, vertrou nie.

Volgens Grant het die twee sy ma se vertroue tot so ‘n mate gewen dat hulle selfs haar bankbesonderhede bekom het.

Quinton Edgar en Lindsay Kirton in die hofbanke. Foto: Christiaan Cloete

Grant is steeds ongelukkig en hartseer oor die feit dat hy sy ma se begrafnis misgeloop het omdat hy in daardie stadium in polisieaanhouding was.

Grant is eers later op borgtog vrygelaat en bly deesdae in Ottosdal.

“Ek bly in ‘n huis sonder om huur of krag te betaal. Hulle is baie goed vir my,” sê hy.

Grant sê sy besittings wat op sy ma se kleinhoewe was – insluitend meubels, gereedskap en voertuie – het gedurende die verloop van die het gedurende die verloop van die hoofstryd verlore geraak en dat die kleinhoewe nou deur lede van sy familie uitverhuur word.

Grant, wat ongeveer 28 jaar saam met sy ma op die kleinhoewe gebly het, vertel dat hy en sy ma besig was om dit te verkoop.

Hy vertel dat hy haar belange in die tuindiensonderneming wat hulle saam besit het sou oorvat.

Grant du Toit met sy regsverteenwoordiger, Elliot Mogale, wat gehelp het om sy onskuld te bewys. Ten spyte daarvan dat hy vrygespreek is glo mense steeds hy het sy ma, Charlotte Fenn (67) vermoor. Foto: Christiaan Cloete

Grant beweer ook dat hy in polisieaanhouding aangerand is.

“Waaroor ek ongelukkig is, is die plastiese sak wat hulle oor my kop getrek het”.

Hy beweer ook dat hulle hom met ‘n tienpond hamer oor die rug geslaan het, en dat hulle hom aangerand het toe hy in hegtenis geneem is.

Grant vertel ook dat ‘n polisiebeampte glo aspris op sy voet, wat hy beseer het toe hy 21 jaar oud was, getrap het nadat hy die beampte gevra het om dit nie te doen nie.

Grant sê hy is in gesprek met sy prokureur, Jaco van Heerden om te kyk hoe hy die saak verder kan voer.

Die polisiestasie in Vereeniging. Grant beweer hy is deur polisiebeamptes aangerand terwyl nadat hy in hegtenis geneem is. Foto: Google Earth

Du Toit staar steeds ‘n klag van onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig, nadat die polisie ‘n ongelisensieerde ‘snake gun’ in die blyplek op sy ma se kleinhoewe by die Houtkop-kleinhoewes gevind het terwyl hulle vir die moordwapen gesoek het.

Die bogenoemde wapen was egter níé die wapen waarmee Fenn om die lewe gebring is nie.

Edgar, wat aanvanklik onskuldig gepleit het op die moord, het intussen van deuntjie verander en erken nou dat hy die oorledene twee keer in haar KIA-bakkie geskiet het, voordat hy die bakkie aan die brand gesteek en Fenn se liggaam naby die treinspoor in Redan gaan stort het.

Uit sy getuienis blyk dit of Kirton ‘n medepligtige was. Die uitspraak word later vandeesmaand verwag.

Lindsy Kirton gluur die fotograaf met skrefiesoë aan terwyl sy na die polisieselle afstap. Foto: Christiaan Cloete
Quinton Edgar in voetboeie by die hof in Palm Ridge. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button