Victoriaanse herehuis in mark vir R9,5 miljoen
Die huis is van geskiedkundige belang en het al in verskeie films en advertensies gepronk.

- *Die berig het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
HEIDELBERG. – ‘n Imposante ou Victoriaanse herehuis wat in 1906 deur die invloedryke Frederik Jacobus Bezuidenhout van Heidelberg laat bou is en al oor die jare in verskeie flieks en advertensies gepronk het, is nou te koop vir ‘n allemintige R9,5 miljoen.
Die huis, wat sowat drie kilometer buite Heidelberg op die R42-pad tussen Meyerton en Heidelberg geleë is, is ryk aan geskiedenis en interessante staaltjies uit sy verlede wat langer as ‘n eeu terug strek.


Dit was blykbaar die eerste huis in die Ou Transvaal wat met elektrisiteit, riolering en sy eie spa gespog het.
Die huis is tussen 1902 en 1906 in opdrag van die ryk en invloedryke Bezuidenhout-familie laat bou en was vir generasies in die Bezuidenhoutfamilie se besit.
Die Bezuidenhouts is bekende figure in Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Die familie het twee plase (Doornfontein en Braamfontein) besit, wat later saam met die plase Langlaagte en Elandsfontein as die stad Johannesburg geproklameer is.
Die Bezuidenhoutsvallei (“Bez Valley”) – ‘n voorstad van Johannesburg wat aan Kensington aan die suide en Observatory in die noorde grens – is ook na die invloedryke Bezuidenhout vernoem.


Die huis het aan Frederik Jacobus Bezuidenhout (tweede geslag) behoort, wie se vader (ook Frederik Jacobus Bezuidenhout) in 1858 van Nederland af na Suid-Afrika geïmigreer het.
Federik Jacobus Bezuidenhout het destyds per skip na Europa gereis om die allerbeste boumateriale vir die huis te kies.
Die huis het volgens gerugte glo destyds ‘n sowat £6 000 (Britse Pond) gekos om te bou. Die boumateriaal is later per skip by die hawe van Lourenco Marques (vandag Maputo) afgelaai waarna dit na Heidelberg vervoer is.

Die bouplanne is deur Carl August Meischke (wat baie staatsgeboue in Pretoria en Johannesburg ontwerp het) opgetrek, met SJ Joubert (wat vir die Uniegebou in Pretoria aangewys is) wat die konstruksie behartig het.
Die huis spog met indrukwekkende rooshoutkaggels, Italiaanse teëls, staalgeperste plafonne, houthandrelings wat uit Europa ingevoer is om die Victoriaanse styl van die gebou te komplementeer.
Die muurpapier is uit Engeland ingevoer, terwyl die mosaïekgangteëls uit Italië ingevoer is.
Die houtvloere is van dennehout, wat van die Amerikaanse deelstaat Oregon ingevoer is.

Die huis bestaan uit 14 kamers: 4 slaapkamers, ‘n mans-rookkamer, ‘n dames-sitkamer, ingangsportaal, ‘n TV-kamer (oorspronklik ‘n slaapkamer), ‘n badkamer, toilet, ontbytkamer, eetkamer, kombuis, spens en ‘n gang wat is 17,6 m lank en 1,8 m breed.
Die woning is intussen as ‘n gastehuis gesoneeer en staan as die De Rust Gastehuis bekend.
Die huis is vanuit ‘n geskiedkundige oogpunt betekenisvol aangesien dit deur sommiges as die tuiste van die Nasionale Party beskou word.
Bezuidenhout, wat uit die Suid-Afrikaanse Party bedank het oor die kwessie van eenwording, het saam met J.B.M.Hertzog daar ontmoet om die stigting van ‘n nuwe party, wat later as die Nasionale Party bekend sou staan, te bespreek.
Die huis is in 1980 as ‘n nasionale monument verklaar.
Daar is ook ‘n familiebegraafplaas waar Frederik Jacobus Bezuidenhout (eerste generasie) en sy vrou.
Bronne:
*https://artefacts.co.za
*Heidelberg Nigel Heraut
*

