News

Verpleegster vier 50 jaar in die bedryf op Internasionale Verpleegstersdag

Die Midvaal Privaat Hospitaal het verlede week ter viering van Internasionale Verpleegstersdag hulde aan sr. Dirkie van Rensburg, een van die Vaaldriehoek se oudste en mees ervare verpleegsters, gebring.

VEREENIGING. – Sr. Dirkie, wie se loopbaan in 1975 as verpleegassistent by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein begin het, werk al die afgelope paar jaar by die Midvaal Privaat Hospitaal in Vereeniging.

Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks op 12 Mei gevier. Dit is dieselfde dag as Florence Nightingale se verjaarsdag.

Die dag is op in 1974 deur die Internasionale Raad van Verpleegsters begin om die bydraes van verpleegsters te vier en mense bewus te maak van die belangrike rol wat verpleegsters in die samelewing speel.

André Joubert, Midvaal Privaat Hospitaal se bestuurder, het in ‘n kort toespraak Internasionale Verpleegstersdag en die viering van sr. Dirkie se 50 jaar in die bedryf as ‘n spesiale geleentheid beskryf.

Sr. Dirkie, ek weet nie hoe jy soveel jaar in dié bedryf oorleef het nie, maar knap gedaan! Dankie vir alles wat jy vir ons gedoen het,” het Joubert gesê.

*Lees meer oor sr. Dirkie in ons gedrukte weergawe van Vaalweekblad.

Sr. Dirkie van Rensburg word deur dr. Francois Stemmet, ‘n kardiotorakale chirurg van die Midvaal Privaat Hospitaal, geluk gewens met dié mylpaal. Foto: Christiaan Cloete
‘n Glasie word op sr. Dirkie van Rensburg geklink. Sy vier vanjaar 50 jaar in die verpleegbedryf. Foto: Christiaan Cloete
Sr. Dirkie van Rensburg van Midvaal Privaat Hospitaal word deur Barbara Spittel, eenheidsbestuurder, geluk gewens. Foto: Christiaan Cloete

 
Back to top button