Meyerton-ongeluk eis lewens van drie kinders
Drie kinders het hul lewens in dié tragiese ongeluk verloor.
MEYERTON. – Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het Woensdagoggend (29 Mei) bevestig dat drie kinders hul lewens verloor het in die tragiese ongeluk wat Dinsdagmiddag in Pierneef Boulevard in Kookrus, plaasgevind het.
Twee transitovoertuie, ‘n minibus taxi wat kinders veroer het en ‘n sedan was by die ongeluk betrokke.
Buiten die sterftes is tien mense ook beseer.

Volgens die munisipaliteit tel werknemers van die sekuriteitsmaatskappy, die bestuurder van die sedan en verskeie kinders onder die beseerdes.
Die ongelukstoneel was gister ‘n miernes van bedrywigheide toe helikopters en ambulanse die beseerde mense by die toneel kom haal het en na verskeie hospitale vervoer het.

Pierneef Boulevard is afgesper en inwoners is gevra om van alternatiewe roetes gebruik te maak. Die straat is intussen heropen vir verkeer.
“Ons gedagtes en simpatie is met die families wat hul geliefdes in hierdie tragiese gebeurtenis verloor het. Ons wens ook ‘n vinnige en volle herstel toe vir al die beseerdes,” het rdh. Peter Teixeira, burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit in ‘n verklaring gesê.

Teixeira was gister saam met lede van sy burgemeesterskomitee en raadslede van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit by die ongelukstoneel.
Volgens Midvaal ondersoek die polisie die saak om te bepaal presies hoe die ongeluk gebeur het.
“Verdere besonderhede sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is,” het die kantoor van die burgemeester in ‘n verklaring laat weet.

