*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus, eerste.
MEYERTON. – Hulde is Dinsdagaand, 4 Junie aan die slagoffers van die busramp in Pierneef-boulevard gebring tydens ‘n kerslig gedenkdiens en kragslegging by die ongelukstoneel.
Lees die oorspronklike stories hier en hier.
Ouers van die oorledenes, naasbestaandes, polisielede, raadslede van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, die burgemeester, rdh. Peter Teixeira, skoolmaats, onderwysers, lede van die skoolvervoervereniging en lede van die gemeenskap het die ongelukstoneel besoek met blomme en kerse wat vir die slagoffers aan die brand gesteek is.

Rdh. Teixeira, wat die naweek by was toe die kinders begrawe is, sê dit was vir hom ook baie traumaties.
“Dit los ‘n diep letsel in mense se harte,” het Teixeira tydens ‘n kort toespraak gesê. Hy het sy meegevoel met die families van die oorledenes, hul skoolmaats en onderwysers uitgespreek.
“Talle onderwysers en skoolkinders moes berading ondergaan. Dit het baie pyn in die gemeenskap gebring. Hulle was ons kinders. Ons het ons kinders verloor. Dit was ons toekomstige leiers. Ons is diep seergemaak,” het Teixeira gesê.

Teixeira het almal wat die gedenkdiens bygewoon het bedank.
“Dankie aan almal wat vanaand gekom het. Dit wys dat ons as ‘n gemeenskap verenig is. Ons sal nooit die antwoord hê oor hoekom dit moes gebeur het nie, maar God is die enigste een wat weet waarom dit moes gebeur het. Dit is baie hartseer en pynlik,” het Teixeira gesê.

Vaalweekblad het verlede week oor die tragiese ongeluk berig wat Dinsdagmiddag, 28 Mei in Pierneef-boulevard plaasgevind het.
Twee transitovoertuie, ‘n minibus taxi wat kinders vervoer het en ‘n sedan was by die ongeluk betrokke.
Die kinders – twee van hulle van Meyerton Primary School en een van Greenacres Private College – het aan hul beserings beswyk. Buiten die sterftes is daar ook tien mense beseer, waarvan sommige nog in hospitale aansterk.
‘n Ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van die ongeluk te bepaal.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het in ‘n verklaring gesê hy sal terugvoer gee sodra die ondersoek voltooi is en die oorsaak van die ongeluk bekend is.




