News

Reik na die sterre vir ‘n goeie doel

Die geleentheid word gehou om geld vir die oud-onderwyser se mediese prosedure in te samel.

MEYERTON – ‘n Sterrekyk-geleentheid word vir Saterdag 12 Oktober by Laerskool Midvaal beplan om fondse vir mnr. Jerry Fowlds, ‘n oud-onderwyser van die skool, in te samel.

Fowlds sal tydens die geleentheid ‘n praatjie lewer waarna daar geleentheid sal wees om vrae te vra en deur teleskope te kyk.

Die sterrekyk-geleentheid word vir Saterdag 12 Oktober by Laerskool Midvaal beplan om fondse vir mnr. Jerry Fowlds, ‘n oud-onderwyser van die skool, in te samel.

Fowlds, wat hom vir 43 jaar lank met passie en geduld aan sy leerders toegewy het – 20 jaar by die Hoërskool Dr. Malan en 23 jaar by Laerskool Midvaal – was altyd baie aktief en het alles van staptoere, fietstoere en daguitstappies gereël.

Sy gesondheid het in 2011 ‘n negatiewe wending geneem toe hy met prostaatkanker gediagnoseer is.

Hy het bestraling daarvoor ontvang en was vir twee jaar in remissie, totdat daar in 2014 kankergewasse in sy buik gevind is.

Daarna het hy verdere bestraling ondergaan. Die komplikasies van die bestraling het egter ‘n groot negatiewe uitwerking op sy lewenskwaliteit gehad.

Sedertdien het hy gesukkel met sy been.

Die laaste paar jaar was ‘n groot uitdaging vir Fowlds, aangesien sy been al hoe meer probleme begin gee het.

In 2023 het hy homself bedlêend bevind.

Na besoeke aan 11 verskillende dokters is vasgestel dat hy ‘n heupvervanging benodig.

Die dokter het die operasie as een van die moeilikste in sy loopbaan beskryf weens die verbrokkeling van sy been.

Dit het egter nie die probleem opgelos nie, aangesien littekenweefsel in sy lies die bloedvloei en limfdreinering beïnvloed, en senuwees vasdruk.

In 2024 het hy ‘n limfchirurg geraadpleeg wat hoopvol is dat ‘n prosedure (vier limfomleidings) sy limfdreinering sal verbeter.

Hierdie prosedure word egter nie as ‘n “mediese intervensie” gesien nie, omdat dit nog baie nuut in Suid-Afrika is, en word dus slegs gedeeltelik deur die mediese fonds gedek.

Die gedeelte wat hy in totaal self sal moet inbetaal word konserwatief op R100 000 beraam.

Dit sluit nie al die nasorg soos spesiale verbande, wondsorg en fisioterapie in nie.

Tot dusver het hy alle bykomende mediese koste wat nie deur sy fonds gedek word nie, uit sy eie sak betaal.

Jerry Fowlds.

 

As pensioenaris kan hy egter nie meer sulke groot uitgawes bekostig nie.

Daar sal tydens die geleentheid ook kosstalletjies en ander aktiwiteite beskikbaar wees.

Dit word op 12 Oktober tussen 18:00 en 22:00 by Laerskool Midvaal se sportgronde gehou. Kaartjies beloop R10 per kind en R20 per volwassene. Die geleentheid is onderhewig aan die weer.

Skakel Hettie Fowlds by 079 746 9618 vir meer inligting.

Hou ook die Facebookblad Hoop op Loop vir Mnr Jerry dop vir meer inligting, of besoek sy Back-a-Buddy blad hier.

‘n Direkte EFT kan ook gemaak word aan JJ Fowlds, Capitec spaarrekening: 2303818377, Takkode: 470010, Verwysing: Operasie

Die geleentheid vind op Saterdag 12 Oktober by Laerskool Midvaal plaas.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button