News

Rand Water waarsku: Emfuleni en Midvaal moet waterverbruik sny

Rand Water waarsku dat munisipaliteite wat nie hul waterverbruik verminder nie ingekort kan word.

Emfuleni en Midvaal is onder die munisipaliteite wat volgens Rand Water hul toegekende watervolumes oorskry, terwyl die grootmaatwaterverskaffer waarsku dat buitensporige verbruik sy voorsieningstelsel onder ernstige druk plaas.

Rand Water sê in ’n verklaring hy pomp reeds teen maksimum kapasiteit, maar die vraag na water neem steeds toe en verbruik het rekordvlakke bereik.

Volgens die waterverskaffer maak volgehoue oorverbruik dit al moeiliker om voorsiening oor sy netwerk te balanseer. Dit verhoog die gevaar van onderbrekings indien die vraag nie onder beheer gebring word nie.

Rand Water waarsku dat hy waar nodig watertoevoer aan munisipaliteite wat hul toekennings oorskry, kan inkort om die stelsel te beskerm.

Volgens Rand Water verbruik Emfuleni gemiddeld 315 miljoen liter water per dag en moet die munisipaliteit sy verbruik onmiddellik met 46 miljoen liter per dag verminder.

Volgens Rand Water verbruik Midvaal gemiddeld 39 miljoen liter water per dag en moet die munisipaliteit sy verbruik onmiddellik met sewe miljoen liter per dag verminder.

Rand Water sê hy het munisipaliteite herhaaldelik oor hoë verbruik gewaarsku.

Gesprekke duur voort om maatreëls te koördineer en maniere te identifiseer om die voorsieningstelsel te versterk.

Volgens die waterverskaffer ondermyn aanhoudende hoë verbruik in sekere gebiede egter steeds die balans tussen vraag en aanbod.

Hy doen ’n beroep op munisipaliteite wat hul toegekende volumes oorskry om onmiddellik op te tree en hul verbruik te verminder om stelselfaling te help voorkom en voortgesette voorsiening te beskerm.

Munisipaliteite, inwoners en ondernemings word ook gevra om water verantwoordelik te gebruik.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button