Mnr. Rossie Briers, hoof van die Hoërskool Dr. Malan en sy vrou, Adri, word deur gasvryheidstudies-leerders by die Griekse aand verwelkom. Foto: Christiaan Cloete
MEYERTON – Die Hoërskool Dr. Malan se Graad 12 gasvryheidstudies-leerders het in die derde kwartaal onder leiding van mev. Chantel Pretorius en Sjef Wilmarie Bronkhorst ‘n Griekse aand by Malanfique, die Hoërskool Dr. Malan se restaurant, aangebied.
Leerders is ook tydens die aand, wat verlede maand gehou is, beoordeel vir gasvryheidstudies.
Gaste is met aankoms getrakteer met heerlike alkoholvrye verwelkomingsdrankies, insluitend vrugtestroop met Lemonade, tsitsibira (tradisionele Griekse gemmerbier) en sitrus suikerstroop met Lemonade.
Daarna was dit tyd vir die hors d’ oeuvres wat in hierdie geval gekrummelde garnale met tirokroketes en ‘n mini hoendershawarma met tzatziki was.
Die voorgereg was ‘n besonderse mezze bordjie, gevolg deur ‘n tussengereg – ‘n vlammende granaatsorbet.
Thaddeus Scheepers, ‘n gasvryheidstudies-leerder, met die hoofgereg, oondgeroosterde Griekse lam met balsamiese sous, aartappelrose en geroosterde groente. Foto: Christiaan Cloete
Die hoofgereg was ‘n oondgeroosterde Griekse lam met balsamiese sous, aartappelrose en geroosterde groente. Die nagereg was baklava kaaskoek – en asof dit nie genoeg was nie, is gaste boonop daarna bederf met koffie/tee en loukoumi.
Die Graad 12’s het hul gaste met heerlike Griekse geregte betower en het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Dit was waarlik geregte van top gehalte.
Jordan Peterson skink wyn vir die foto. Foto: Christiaan CloeteJolene Viviers, Chanelle Grobler en Vanessa du Toit in die kombuis. Foto: Christiaan CloeteSimone Jordaan, die maître d’hôtel, saam met Sjef Wilmarie Bronkhorst. Foto: Christiaan CloeteNicky Claassen, Thaddeus Scheepers, Christopher Wide en Nico Mostert het in die kombuis die kospotte laat sing. Foto: Christiaan CloeteRaylene Aggenbach bedien vir Yolandie Coetzer tydens die Griekse aand. Foto: Christiaan Cloete
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!