Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
HEIDELBERG – Wat veronderstel was om ‘n liefdadigheidswedren ten bate van die niewinsgewende organisasie Meals on Wheels te wees, het 13 Oktober in tragedie geëindig.
‘n Fietsryer is dood nadat sy met ‘n stilstaande ambulans gebots en by ‘n afgrond afgetuimel het.
Vaalweekblad verstaan die ongeluk het gebeur toe nooddienswerkers van die Dial-a-Medic ambulansdiens reeds besig was om ‘n beseerde fietsryer in die Suikerbosrand Natuurreservaat by te staan.
Die eersgenoemde fietsryer het teen ‘n steil afdraande beheer oor sy fiets verloor en ‘n beenfraktuur opgedoen nadat hy oor ‘n afgrond gerol het.

Toe nooddienswerkers besig was om die pasiënt aan die voet van die steil afdraande te help is ‘n tweede fietsryer glo in die ambulans se deur vas.
Die ambulans was teen die onderkant van die steil afdraande geparkeer.
Sy het daarna ook oor die afgrond gerol.
Haar kop het glo ‘n klip getref.
Die Netcare 911 ambulansdiens is later ontbied om bystand op die toneel te verleen.
Mark Schietekat, operasionele bestuurder by Dial-a-Medic, het laat weet dat die ambulansdiens nie kommentaar kan lewer voordat die ondersoek afgehandel is nie.
Netcare 911 het in ‘n kort verklaring gesê dat die ambulansdiens gereageer het nadat ‘n fietsryer ernstig in ‘n padongeluk beseer is.
Die fietsryer het dringende mediese hulp nodig gehad.
“Een van ons ambulanse het opgedaag en gevorderde lewensondersteuning aan die beseerde vrou verskaf. ‘n Netcare 911 helikopter is gestuur om die pasiënt hospitaal toe te vervoer.”
“Ongelukkig is die vrou oorlede voordat sy per helikopter na die hospitaal geneem kon word,” het Russel Meiring, ‘n woordvoerder van Netcare 911 by navraag aan Vaalweekblad vertel.
Louis Harmse van Spektrum Sport, organiseerder van die wedren, het die tragiese voorval betreur.
Volgens hom is dit die eerste keer in 45 jaar van wedrenne reël wat iemand noodlottig beseer is.
Volgens Ian Grobler, ‘n direkteur van die organisasie Meals on Wheels, het hulle verlede week die familie van die oorledene gaan sien en die oorledene se fiets aan hulle terugbesorg.
Fietsry Suid-Afrika het hul meegevoel met die familie uitgespreek.
“Baie hartseer. Ons innige simpatie met die Familie en vriende,” het Cherise Wilheit, ‘n woordvoerder van Fietsry Suid-Afrika gesê.

