News

Lee Luka bekoor met nuwe liefdesbalade

Die lied is geïnspireer deur die tasbare verbinding van ware liefde.

MEYERTON – Lee Luka se splinternuwe liefdesbalade By My is aan haar man opgedra.

Die lied is vir die sangeres van Meyerton baie diep. Dit gaan oor die harde klippe wat hulle twee oor die jare al saam gekou het.

Hoe hy haar in af en op oomblikke opkikker, en saam met haar die goeie tye vier en net alles in ‘n fees verander.

Die sangeres meen die lewe kan soms ‘n warboel wees, maar met haar liefde aan haar sy kon sy al so baie oorkom.

Die huwelik en verhoudings oor die algemeen het hulle eie unieke uitdagings, maar met die regte persoon is dit makliker.

By My is geïnspireer deur die tasbare verbinding van ware liefde.

Lee Luka. Foto: Christiaan Cloete

Lee Luka verklaar: “As jy regtig lief is vir iemand, word julle een. Jy voel dat jy enigiets kan aanpak met jou sielsmaat en jy verlang na jou geliefde as hul nie by jou is nie.”

Sy dink luisteraars sal aanklank vind by die lied juis omdat dit so geskryf is om mense nog meer verlief te maak.

Dit is ‘n lied waarmee mans en vroue albei kan resoneer.

Mens kan nie help om meegevoer te raak met die lirieke nie; dit is ‘n sielslied, dit raak die siel, en alles draai tog om liefde.

Lee Luka verklaar dat haar styl deur niemand spesifiek beïnvloed word nie.

Sy kan wel sê dat haar liefde vir skryf ontwikkel het deur Fredi Nest.

Sy het baie saam met hom en Sandra van Nester Promosies getoer, en sy skryfwerk het haar soms in trane gelaat.

Hy was ‘n groot mentor vir haar; sy het vreeslik baie by hom geleer.

Hy was die eerste persoon wat Nooit Ooit Alleen gehoor het, en hy het haar maak belowe dat sy nooit sal ophou skryf nie.

Lee Luka is nou al dertig jaar lank besig in die musiekbedryf. In haar drie dekades in die musiekbedryf het Lee Luka menigte hoogtepunte gehad.

Sy het al verskeie kompilasie-CD’s uitgebring, asook haar solo-albums Ride on the Wind en Best Friends. Van haar musiek het al op verskeie radiostasies op nommer een gepronk, waarvoor sy steeds die publiek dank vir hul ondersteuning.

Sy het ook treffers op Belgiese radiostasies gehad, wat vir haar natuurlik ‘n groot pluimpie was.

In 2006 het hulle vir ‘n paar jaar in Dubai gewoon, waar sy die voorreg gehad het om internasionale verhoë te betree.

Televisiewerk het ook op haar pad gekom, waar sy advertensiewerk vir ‘n Iraanse maatskappy gedoen het.

Dus is sy geen vreemdeling in die bedryf nie. As haar musiek mense aanraak, is sy in euforie; dit is haar doel op aarde. Hoe meer haar gehoor haar musiek geniet, hoe lekkerder voel dit.

Lee Luka. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button