*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING. – ‘n Plaaslike sakeman wat in Augustus by sy winkel in Vereeniging se middestad ontvoer is, is onlangs deur sy ontvoerders vrygelaat.
Volgens ‘n bron is Irfaan Dadabhay, eienaar van Mimosa Sweets in Smutslaan, Donderdagaand, 24 Oktober deur sy ontvoerders vrygelaat.
“Hy is vrygelaat. Hy het ‘n beenbreuk opgedoen nadat hy geskiet is en het ‘n operasie ondergaan,” het Dadabhay se pa, Dawood Dadabhay, verlede week aan Vaalweekblad bevestig.
Vaalweekblad verneem Dadabhay sterk tuis aan.
Volgens die pa het die ontvoerders sy seun op ‘n plek tussen Sharpville en Randfontein afgelaai.
Vaalweekblad het betroubaar verneem dat die ontvoerders op ‘n losprys van R5 miljoen aangedring het.
Die familie het bevestig dat ‘n losprys betaal is, maar het nie bevestig watter bedrag uiteindelik betaal is nie.
“Ek weet nie wat die presiese bedrag was nie,” het Dadabhay by navraag aan Vaalweekblad gesê.
Die vrylating volg skaars twee dae nadat Vaalweekblad twee weke gelede navraag by die familie gedoen het oor hoe dit met Dadabhay gaan en of die familie nog weet of hy lewend is.
Dadabhay is op die oggend van 29 Augustus kort voor 09:00 by sy winkel ontvoer en het bykans twee maande in aanhouding spandeer.
Die ontvoering het groot opslae op sosiale media gemaak.
Beeldmateriaal van die voorval wys hoe gewapende mans een vir een by sy winkel instorm en hom dan aan die arms en bene uitdra en in ‘n voertuig boender.
Dadabhay is tydens die ontvoering raakgeskiet.
Die selfde voeruig waarin die aanvaller vir Dadabhay geboender het en met hom weggejaag het – ‘n maroen Hyundai sportnutsvoertuig – is later dieselfde dag naby die Phumasbethane informele nedersetting, ook bekend as Phuma’s in Sharpeville gevind.
Ontvoerings soos dié is glo aan die toeneem in Suid-Afrika. Volgens ‘n verslag van Statistiek Suid-Afrika was daar in 2022/2023 meer as 15 000 ontvoerings in Suid-Afrika met die grootste hoeveelheid van hulle in Gauteng (7 000) en die tweede meeste in KwaZuluNatal (3 000).
Vaalweekblad het in 2022 ook berig oor Zaheer Asmal, die eienaar van Fred’s Hardware in De Deur, wat op die oggend van 24 Februarie 2022 voor sy winkel ontvoer is.
Asmal is ‘n later ongedeerd by ‘n huis in Lenasia gevind en sy ontvoerders in hegtenis geneem.