News

AfriForum-tak stig buurtwag om Vereeniging te beveilig

Die doel van die nuwe buurtwag is om die gemeenskap, in samewerking met die plaaslike polisie en ander veiligheidsrolspelers, te beveilig, op noodsituasies te reageer en die nodige bystand te bied.

VEREENIGING – Die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs ’n splinternuwe buurtwag gestig om inwoners van die gebied te help beveilig.

Die nuutaangestelde buurtwagleier, Jaco Venter, sê hy pak graag dié geleentheid aan om ’n daadwerklike verskil in Vereeniging te maak.

Hierdie AfriForum buurtwag se bestuur, wat op 7 November verkies is, bestaan uit Venter, Innes Erasmus (operasionele leier), Lian Naude (inligtingsleier) en Leonie Bester (steunleier).

Die buurtwag vorm deel van die struktuur van die bestaande AfriForum-tak in die gebied.

Dit het ten doel om die gemeenskap, in samewerking met die plaaslike polisie en ander veiligheidsrolspelers, te beveilig, op noodsituasies te reageer en die nodige bystand te bied.

“Ek’s baie opgewonde oor die stigting van hierdie buurtwag en nooi graag die gemeenskap uit om by AfriForum se Vereeniging-buurtwag in te skakel.

Ons kan nie langer die geveg teen misdaad op die skouers van die polisie alleen laat rus nie; ons moet self betrokke raak,” sê Erasmus, ook die voorsitter van AfriForum se Vereeniging-tak.

“Die veiligheidsuitdagings wat ons gemeenskappe deesdae in die gesig staar vereis dat ’n buurtwaglid toegerus is met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag te lê. Ons het ’n uitgebreide opleidingsprogram en sal dus spoedig daarmee begin,” voeg Erasmus by.

AfriForum sê in ‘n verklaring hy sien uit om kragte saam te snoer met alle veiligheidsrolspelers in Vereeniging en saam dit ’n veilige plek te maak.

Inwoners wat graag by AfriForum se Vereenigingbuurtwag betrokke wil raak kan ’n boodskap aan 079 826 0786 stuur of ’n e-pos na vereeniging.bw@afriforumtak.co.za stuur vir meer inligting.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button