VIDEO: Van rugbybesering tot internasionale armdruk-fenomeen
Nou is hy op pad New Jersey toe om kragte teen die armdruklegende Don ‘Hollywood’ Underwood te meet.
MEYERTON – Op die ouderdom van net 21 jaar oud het Riekerd Bornman ‘n formidabele naam in die wêreld van armdruk geword.
Die jong Meyertonner wat deesdae oorsee bly het die Australiese armdrukwêreld met ‘n blitzkrieg gevat en die gesogte AWE-swaargewigtitel – twee keer – ingepalm.
Hierdie gespierde Suid-Afrikaanse expat, ‘n voormalige rugbyspeler, is terug in Suid-Afrika vir ‘n kort besoek, en Vaalweekblad het met hom opgevang waar hy vir sy familie in Rothdene, Meyerton gaan kuier het.
As boorling van Meyerton was Riekerd se atletiese vermoëns van jongs af iets besonders.
Hy was ‘n belowende rugbyspeler wat drie jaar gelede na Australië verhuis het met drome om ’n beroepspeler te word.
’n Stresfraktuur in sy tibia het egter daardie ambisies ontspoor.
Nadat hy vir meer as ‘n jaar met die besering gesukkel het, het Riekerd toevallig armdruk ontdek.
“Maande ná my besering het ek besluit om vir ’n armdrukkompetisie in te skryf,” onthou hy.
“Ek het dit gewen, en dit is waar alles begin het.”
Riekerd se onverwagse blootstelling aan die wêreld van armdruk het vinnig in sukses verander toe’n vooraanstaande Australiese armstoeier na hom uitgereik en hom genooi het om by sy klub te oefen.
Skaars weke later het hy sy eerste armdruk-wedstryd gewen.
Twee jaar later, en Riekerd is ‘n tweemalige AWE-swaargewigkampioen, wat topaanspraakmakers soos Brett Coutts, Ryan Bowen en Marcus Atirai (ook bekend as die “The Tahitian Wrecking Ball”) uitoorlê het.
Riekerd onthou die verrassing en opgewondenheid.
“Ek was siek voor die eerste AWE-kompetisie en het laat opgedaag. Niemand het verwag dat ek sou wen nie, maar ek het met die titel weggestap,” sê hy.
“‘n Maand gelede het ek my titel met perfekte voorbereiding verdedig, en dit het alles vrugte afgewerp,” vertel Riekerd.
Sy vinnige opgang in die armdrukwêreld het nie ongesiens verbygegaan nie.
Sy komende uitdaging in Januarie 2025 in New Jersey teen Don ‘Hollywood’ Underwood, ‘n voormalige pro-stoeier en sokkerspeler, is nog ‘n mylpaal in sy jong loopbaan.
“Dis ’n groot wedstryd vir my,” sê Riekerd. “Ek is opgewonde om myself te toets teen ‘n legende van die sport.”
Terwyl armdruk vir Riekerd ‘n nuwe sin van doelgerigtheid gebring het, bly hy gegrond en dankbaar.
“Ek voel gelukkig en geseënd met my talente,” sê hy.
“Soms voel dit of ek onnatuurlik sterk is, maar aan die ander kant weet ek hoe hard ek oefen.”
Riekerd se jonger broer, Duvan, het blykbaar ook nou ‘n kontrak met AWE geteken en sal na verwagting volgende jaar sy debuut maak.
Dit is duidelik dat armdruk sterk in die Bornman-familie loop.
Terwyl Riekerd vir die volgende fase van sy loopbaan voorberei, gaan hy voort om sy gemeenskap in die Vaaldriehoek te inspireer.
Sy boodskap aan jongmense is eenvoudig: “Enigiets is moontlik as jy werklik glo en hard werk.”
Vir Riekerd is die toekoms blink, en hy is vasbeslote om elke geleentheid wat oor hom kom, ten beste te benut.