Goue era van inryteaters by River Square herleef
River Square het onlangs die inryteater terug gebring.
VEREENIGING – Daar was op Vrydagaand, 8 November ‘n nostalgiese atmosfeer in die lug toe die River Square-winkelsentrum die goue era van inryteaters herleef het.
Die winkelsentrum se parkeerterrein is tydens River Square se eerste Drive-In Cinema-aand in ‘n inryteater omskep.

Bykans ‘n 100 voertuie het ingerol om ‘n vertoning van Minions 2025 op ‘n massiewe buitelugskerm te geniet, met fliekgangers van alle ouderdomme wat saamgekom het vir ‘n aand van gesinsvriendelike pret.
Die geleentheid was ‘n treffer vir oud en jonk.
Sommige fliekgangers het selfs hul vierpotige vriende saamgebring om die ervaring te geniet.
Terwyl sommige kykers dit verkies het om die fliek in die gemak van hul motors te kyk, het ander kreatief geraak en in die kattebakke van hul voertuie gesit.

Van die fliekgangers het selfs die fliek van die dakke van hul motors gekyk.
Die klankbaan van die fliek is gesinchroniseer via ‘n plaaslike FM-stasie, 102FM, wat verseker het dat almal die perfekte oudio-ervaring gehad het.
As deel van die inry-ervaring het besoekers ‘n verskeidenheid versnapperinge geniet, insluitend die klassieke springmielies, wat bygedra het tot die atmosfeer van ‘n ware buitelugbioskoop.

Die geleentheid het gaste toegelaat om die herinnering van inryteaters te herleef, wat die gewildste was in die 1950’s, voor hul agteruitgang in die laat 20ste eeu as gevolg van die opkoms van multipleks-bioskope en tuisvideo’s.
Brandan Erxleben, die bemarkingsbestuurder vir die River Squarewinkelsentrum, het aan Vaalweekblad gesê hoewel dit die winkelsentrum se eerste inrygeleentheid was, hoop hulle om dit ‘n gereelde funksie te maak.

Die geleentheid was ’n wonderlike manier om mense bymekaar te bring in ’n prettige en unieke omgewing.
Die sukses van die geleentheid het ook gewys dat, ten spyte van die afname van inryteaters, daar steeds ‘n gehoor is wat gretig is vir hierdie nostalgiese ervaring.
River Square se Drive-In Cinema gaan ‘n nuwe tradisie vir die plaaslike gemeenskap word, wat ouskoolse sjarme met moderne gerief kombineer.

