News

Inwoners restoureer ou kanon by Vaal Teknorama

Die veldkanon wat by die Vaal Teknorama staan, was een van die meer gebruikte gewere in die Tweede Wêreldoorlog.

VEREENIGING – Op Saterdag, 26 Oktober, het ’n groep toegewyde inwoners by die Vaal Teknorama byeengekom om nuwe lewe in ’n geskiedkundige stuk artillerie te blaas.

Die groep van ongeveer 10 vrywilligers, insluitend lede van die Memorable Order of the Tin Hats (Moths), die Kannoniersbond van Suid-Afrika, en weermagveterane, het die oggend spandeer deur ‘n veldkanon, die Ordnance QF 25-pounder, tot sy voormalige glorie te herstel.

Die groep inwoners wat op 26 Oktober by die Vaal Teknorama byeengekom het om ‘n Ordnance QF 25-ponder veldkanon af te skuur en oor te verf. Van links is Piet van Zyl, Renier Henning, Okkie Jooste, Richardt Jooste, Gerrit Strydom, Frans Harding en Hennie van Eck. Foto: Christiaan Cloete

Onder leiding van Okkie Jooste het die groep vanaf 08:00 tot 12:00 onverpoosd gewerk om die kanon versigtig af te skuur en oor te verf.

Die 25-pounder, ‘n belangrike stuk veldartillerie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Britse en Statebondsmagte gebruik is, is bekend vir sy duursaamheid en veelsydigheid.

Dit was ook een van die mees gebruikte kanonne van die oorlog, bekend vir sy betroubaarheid en gemak van werking.

Vrywilligers knap ‘n Ordnance QF 25-pond veldkanon op. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Okkie het die burgerregtegroep AfriForum die verf vir die projek geskenk, terwyl sy eie afleweringsbesigheid, Transmart, die kos voorsien het vir die braai.

Nadat die restourasie voltooi is, het die groep gesellig saam om die braaivleisvuur gekuier waar hulle heelwat staaltjies van hul weermagdae oor ‘n boereworsrol of twee gedeel het.

Die geleentheid het nie net gedien as ‘n praktiese herstelpoging nie, maar ook as ‘n kans vir veterane om sosiaal te verkeer, te netwerk en hul vorige weermagervarings te onthou.

Piet van Zyl, ‘n weermagveteraan, help om die veldkanon oor te verf. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Okkie is die kanon aan die Vaal Teknorama geskenk deur Charl Cilliers, ‘n voormalige werknemer van USKO (nou ArcelorMittal) en ‘n passievolle versamelaar van oorlogstydse memorabilia.

Die versamelstukke het glo by sy huis in Duncanville gestaan voordat hy besluit het om dit aan die Teknorama te skenk. Okkie, wat aan die spits was van pogings om historiese artefakte regoor die Vaaldriehoek te herstel, sê hierdie projek is deel van ‘n groter veldtog om plaaslike geskiedenis te bewaar.

Ander onlangse restourasiepogings het ‘n opruimingsaksie by die Vereenigingkonsentrasiekamp en die restourasie van ‘n kapel waar die Dag van Herinnering jaarliks herdenk word, ingesluit.

Die groep wil ook ‘n ou lugafweergeweer wat by die Teknorama staan restoureer, maar benodig iemand wat kan help om die vertoonstuk te sandblaas.

Enigiemand wat belangstel om met hierdie projek te help, kan vir Okkie Jooste by 071 478 8816 kontak.

Die Vaal Teknorama waar die veldkanon staan. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button