Brandmoord: Beskuldigde verskyn met verbande om bene
Hy het sélf brandwonde tydens die voorval opgedoen.
VEREENIGING – ‘n Man wat glo petrol op sy vriendin uitgegiet en haar aan die brand gesteek het se bene was Woensdag met wit verbande toegedraai toe hy vlugtig in die streekhof verskyn het.
Stephan van Staden, wat teregstaan vir die moord op Linell du Toit, is uit die Sebokeng Hospitaal ontslaan waar hy vir weke lank vir brandwonde behandel is.
Vroeër vandeesweek is hy na die Leeuhofgevangenis geneem waar hy tans aangehou word.
Dit het ook gelyk of Van Staden mank loop toe hy met die trappies tussen die aanhoudingselle en die hof opgestap het tot by die beskuldigdebank.
Lede van die gemeenskap wat Du Toit geken het, het Woensdag die hofbanke volgesit.


Van Staden se ma, Jenny, was ook teenwoordig en het uitgeroep, “Ek is lief vir jou, Stephan” toe hy na die vlugtige verskyning weer na die aanhoudingselle gelei is.
Van Staden het gestop en vlugtig in sy ma se rigting gekyk voordat hy weer met die trappe afgeloop het.
Hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning. Streeklanddros Chris Kruger het die saak tot 27 November uitgestel wanneer Van Staden moontlik ‘n borgaansoek kan bring.
Die saak is uitgestel sodat Van Staden se adres geverifieër kan word voor die borgaansoek.

Buite die hof het ‘n groep mense vreedsaam met plakkate betoog en geskree: “Geregtigheid vir Linell.” Een van die betogers het die sangeres Alicia Keys se liedjie This Girl is on Fire op ‘n luidspreker gespeel. Een van die plakkate wat vertoon is, lees: “Mamma se seuntjie, jy is ‘n moordenaar. Geen borgtog vir Stephan van Staden.”
‘n Ander plakkaat met foto’s van wyle Linell op, lees: “Weg, maar nie vergete. Petrol kan nie die herinneringe uitwis nie.” Mika Oosthuizen, ‘n inwoner van die woonstelkompleks waar Van Staden en Du Toit gewoon het meen, “nie eers jou ergste vyand verdien so iets nie.


* Linell du Toit het derde- tot vierdegraadse brandwonde oor 80% van haar liggaam opgedoen tydens die voorval wat op 26 Oktober plaasgevind het by die woonstel wat sy en Van Staden in Uniestraat in Vereeniging gedeel het.
Sy het na bykans ‘n week in die Sebokeng Hospitaal aan haar beserings beswyk.
In ‘n opspraakwekkende video wat kort voor haar dood opgeneem is beweer sy dat Van Staden haar aan die brand gesteek het. Linell beweer ook op die video dat Van Staden vir haar gesê het om te sê dit was ’n ongeluk. “Dit was nie ‘n ongeluk nie,” sê sy dan terwyl sy lê en ruk van die pyn en skok.
