NewsSportSport

Het Taaiseun sy siel verkoop?

Of het Vadertyd hom ingehaal

Die berg het toe ‘n molshoop gebaar. Die man wat eens as die “baddest man on the planet” bestempel is, het teen die kapokhaan YouTuber, Jake Paul, verloor.

Boksliefhebbers is briesend nadat die geveg tussen die legendariese Tyson en Paul glad nie aan verwagtinge voldoen het nie. Al wat slegter as die geveg was, was Netflix se patetiese stroomdiens van die geveg en Tyson se agterstewe wat in die kleedkamer na ‘n onderhoud afgeneem is.

Die hunkering om die Iron Mike van die laat 80’s en 90’s te herleef asook ‘n onstuitbare propaganda en mediaveldtog, het miljoene mense met hul harte laat dink en ‘n blinde oog laat draai vir die verdoemende feite.

Hoewel Tyson op 58 ‘n fisieke fenomeen is
om agt rondtes teen ‘n 27-jarige te ‘’boks,” het die realiteit en omvang van die saak eers in die derde rondte by almal begin insink… Is Vadertyd saam met hulle in die kryt?

Benewens die eerste rondte was daar bitter min aksie van Taaiseun se kant. Die bokslegende se bekende woorde dat almal ‘n plan het totdat hulle in die gesig geslaan word, sal by hom spook. Was dit ‘n geval van die gees is gewillig maar die vlees nie? Is hy geforseer om
terug te hou?

Dit is jammer dat boks in ‘n sirkus ontaard. En die man wat daarvoor verantwoordelik is, is die einste Jake Paul.

Die feit dat gevegte soos hierdie enigsins toegelaat word laat mens se kop draai. Paul is ‘n besigheidsman en ‘n gemiddelde bokser, wat waarskynlik kanonfodder vir enige ander swaargewig in die wêreld sal wees. Hy het in onderhoude vermeld hy is die een wat die inhoud (content) verskaf.

So hoekom is ons so verbaas dat daar beweer word dat daar ‘n draaiboek vir die geveg was? Was die uitkoms van die geveg vooraf bepaal? Ek laat dit aan julle oor om te besluit?

Al wat ek weet is dat slegs ‘n handjie vol mense al die pad bank toe lag. Paul word deur baie hokvegters en boksers as ‘n lafaard uitgekryt omdat hy teen ou manne en hokvegters boks.

Die eerste keer wat hy in sy sogenaamde beroepsloopbaan streepsuiker gekry het, was toe hy teen ‘n bitter gemiddelde Tommy Fury – sy eerste ware boksteenstander – verloor het. Mens gaan waarskynlik nooit die einde hiervan hoor nie, maar dit sal waarskynlik net Paul wees wat wil spog dat hy die legendariese Mike Tyson geklop het.

Dit blyk dat ‘n nalatingskap Tyson nie veel traak nie. Paul se speletjie het egter in sy gesig ontplof.

Hy sal onthou word as die man wat boks se beeld en geloofwaardigheid Die kapokhaantjie Jake Paul onherroeplik beskadig het.

Die bokswêreld voel gekul. Maar ons moet
ook saam met hom in die beskuldigingsbank gaan staan.

Ons por dit aan. Ons gooi die petrol op die vuur. Ons luister na die bogpraatjies en praat saam. Die hype en vrees om uit te mis, is besig om ons oordeel aan te tas. Drie dinge het wel gebeur.

Een: die “bookies” het sakke vol geld gemaak met Tyson wat as die volslae gunsteling bestempel is. Twee: die naam Jake Paul is meer relevant as ooit. Al is dit vir die verkeerde redes. Drie: Mike sal nou hopelik in gemak kan aftree.

Daar word beweer dat swak gedrag of negatiewe patrone gestuit kan word deur dit nie te voer nie.Die bekende Amerikaanse akteur, Morgan Freeman, het dit waarskynlik die beste
opgesom toe hy oor rassisme in ‘n onderhoud uitgevra is.
Sy antwoord was in ‘n neutedop dat dit sal verdwyn as ons ophou om daaroor te praat. So daar het ons dit. Smoor die Jake Paulsirkus in die kiem.
Of is dit te laat? Tyd staan vir niemand en niks stil nie. Lank lewe Mike Tyson, die ware bokslegende. Geniet daai aftree-geldjies,
die een is op ons!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button