News

VIDEO: Herrie oor gay reënboogvlag by munisipale kantore

Die kwessie saai blykbaar verdeeldheid onder inwoners van die DA-beheerde munisipaliteit in Gauteng.

MEYERTON – Daar was die afgelope week ‘n herrie op sosiale media oor die Gay Pride-vlag wat voor die kantoor van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit vertoon word.

Die vlag is ’n LGBTIQA+ simbool wat ten doel het om vryheid en uiteenlopendheid te weerspieël en trots in die land se LGBTIQA+ gemeenskap aan te wakker.

Kerkgroepe en konserwatiewes het die afgelope week aanstoot geneem nadat foto’s van die reënboogvlag wyd op sosiale media gedeel is en gekla dat inwoners nie oor die kwessie geraadpleeg is nie.

Die vlag wapper saam met die vlag van die Afrika-unie, die Suid-Afrikaanse vlag en die vlag van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit voor die munisipaliteit se kantoor in Mitchellstraat.

Die Gay Pride vlag wapper buite die Midvaal Plaaslike Munsipaliteit. Foto: Christiaan Cloete

Volgens die burgemeester van die munisipaliteit, Peter Teixeira, is die vlag egter niks nuuts nie en wapper dit al etlike jare lank by die munisipale kantore.

Hy het die afgelope week aan Vaalweekblad gesê hy vind dit vreemd dat daar nou skielik so bohaai oor die vlag gemaak word.

Volgens Teixeira het sy voorganger, die voormalige burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, Bongani Baloyi, besluit om die vlag voor die munisipaliteit te vertoon, omdat die munisipaliteit die gemeenskap wou gewys het dat die munsipaliteit vir almal is en dat die hulle almal se sienswyses en gelowe respekteer.

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se vorige burgemeester hys die Gay Pride vlag op in 2018.

 Vaalweekblad verstaan dat die Midvaal-munisipaliteit in 2018 reeds die reënboogvlag opgehys het toe Midvaal op Vryheidsdag ‘n belofte onderteken het om die regte en vryhede van die LGBTIQA+ gemeenskap te bevorder en beskerm.

Teixeira sê: “Daar was ‘n tydperk wat die LGBTIQA+ gemeenskap erg in Suid-Afrika geviktimiseer is. Daar was ook ‘n geval van mense wat vermoor is omdat hulle aan dié groep behoort het.”

Dit het glo daartoe aanleiding gegee dat die LGBTIQA+ gemeenskap aangedring het dat hul regte erken word.

Peter Teixeira teken destyds saam met ander raadslede van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit die belofte om om die regte en vryhede van die LGBTIQA+ gemeenskap te bevorder en beskerm.

Teixeira sê hy wou nie by die bekgeveg op sosiale media betrokke raak nie, aangesien dit verdeeldheid onder inwoners saai.

Mens kan sien dat dit sommige inwoners ontstel, terwyl ander inwoners ten gunste daarvan is. Ons wil nie graag verdeeldheid in die gemeenskap saai nie,” sê Teixeira.

Teixeira het ‘n beroep op inwoners gedoen om ander se gelowe en oriëntasie te aanvaar en om te help om ‘n inklusiewe munisipaliteit te bou.

Ons respekteer almal. Die LGBTIQA+ gemeenskap is deel van ons gemeenskap. Hulle is ons broers. Hulle is ons susters. Daar is mense in die LGBTIQA+ gemeenskap wie se ouers ook konserwatief is, maar aanvaar het dat hulle kinders deel van daardie gemeenskap is. Vir ons gaan dit om respek te toon en te wys dat die LGBTIQA+ gemeenskap ook deel van hierdie pragtige munisipaliteit is,” het Teixeira gesê.

Die Gay Pride vlag wapper by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button