Staptog ter bewusmaking van veelvuldige sklerose
Die staptog ter bewusmaking van MS is deur die 15-jarige Leandri Harmse gereël.
VANDERBIJLPARK – Tientalle mense het op Sondag, 24 November aan ‘n staptog ter bewusmaking van veelvuldige sklerose (MS) deelgeneem.
MS is ‘n chroniese toestand wat die immuunstelsel aantas, wat veroorsaak dat dit gesonde selle aanval.
MS raak dikwels jong volwassenes, tipies tussen die ouderdomme van 20 en 40, en die simptome daarvan kan wissel van verlies aan motoriese funksie, sig, tot skade aan die senuweestelsel.
Die geleentheid is deur die 15-jarige Leandri Harmse, ‘n graad nege-leerder aan Hoërskool Sasolburg, gereël.
Leandri se niggie, Rochelle Killian (33), is onlangs met MS gediagnoseer.
Leandri se inisiatief is gedryf deur haar diep begeerte om ander te help en bewustheid te skep rondom die uitdagings wat veelvuldige sklerose-lyers in die gesig staar.

Voor die aanvang van die staptog om 08:00, het Rochelle se man, Heindrich Willers, die stappers toegespreek.
Hy het die stryd van die lewe met MSlyers gedeel en dit beskryf as ‘n daaglikse, onsigbare stryd.
“Dit is blywende dinge soos meedoënlose pyn, verlies van motoriese funksie, en die emosionele tol wat dit op die individu neem,” het hy gesê.
“Tog verdra Rochelle dit alles met moed en veerkragtigheid. Sy is my held.”
Rozaan Steyn van die MS Hooporganisasie het ook ‘n sleutelrol gespeel om die bewusmakingsveldtog te ondersteun.
Stappers het in oranje t-hemde en linte, wat verkoop is om fondse vir die saak in te samel, die staptog aangedurf.
Volgens Gerrie Hadders van MS Hoop was hierdie geleentheid waarskynlik een van die grootste MS-bewusmakingsveldtogte in Suid-Afrika, met mense van alle vlakke van die samelewing wat deelgeneem het.
‘n Spesiale oomblik van stilte is ook vir Heleen van Rooyen, ‘n MS-lyer wat op 19 November oorlede is, gehou.
Haar familie, insluitend haar man en seun, was teenwoordig om haar nagedagtenis te eer.
Die gemeenskap het tydens die staptog solidariteit getoon met diegene wat met die siekte leef.

