News

Gimmies samel geld in vir skool se klereboetiek

Gimmies se klereboetiek maak op tweedehandse klereskekings staat en is ten bate van leerders in nood.

VEREENIGING – Gimmies se Leerdersforum het tydens Geestesgesondheidsmaand deur middel van ‘n muntlegging altesaam R1500 vir Hoërskool Gimnasium se leerdersforum en die skool se klereboetiek ingesamel.

Hannes Grobbelaar, Vereeniging Gimnasium se adjunkhoof, het leerlinge vir hul deelname aan die fondsinsamelingsprojek bedank.

Hierdie soort fondsinsamelings is in die verlede baie meer gehou. Dis nie nodig om ‘n miljoen te gee nie. Dit is wel baie belangrik om te gee, want hoe meer jy gee, hoe meer sal jy ontvang,” het Grobbelaar gesê toe hy op 23 November leerders toegespreek het.

Leerders van Vereeniging Gimnasium staan in die vorm van ‘n hart. Foto: Christiaan Cloete
‘n Leerder van Gimmies se been versier vir Geestesgesondheidsmaand. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Charlese McMillan, ‘n skoolgebasseerde maatskaplike werker wat gehelp het om die leerdersforum saam te stel en die skoolboetiek koördineer, help Gimmies se leerdersforum om sulke welsynsprogramme en fondsinsamelings ten bate van leerders in nood te dryf.

Vereeniging Gimnasium is in ‘n laeinkomste area geleë, daarom is daar ‘n groot behoefte onder leerders van die skool aan basiese menslike behoeftes.

Alle fondse wat deur die projek ingesamel is gaan volgens McMillan aan die skool se klereboetiek.

Fondse sal gebruik word om die boetiek te verbeter, aangesien die huidige gebou wat dit beset, onderhoud verg,” verduidelik McMillan.

Dié klereboetiek maak volgens McMillan staat op tweedehandse klereskenkings van alle ouderdomme.

Lede van Gimmies se Leerdersforum met die geld wat hulle ingesamel het. Foto: Christiaan Cloete

Klere wat deur die hoërskoolleerders gebruik kan word, word uitgestal en leerders kan binne die boetiek ‘inkopies doen’ op voorwaarde dat hulle hul ou klere uitruil of hulle van hul tyd aan ons voorsien.

Sommige leerders het letterlik niks om te gee nie en sal dan hul tyd as betaalmetode aanbied, waar hulle dan vrywillig in ander projekte kan werk.

Die doel is om die jeug van vandag te leer dat om van die samelewing te ontvang, jy aan die samelewing moet teruggee. Ons streef ook daarna om trots terug te gee aan diegene wat in armoede leef en daarom is die idee nie om hulle te laat voel dat hulle ‘n ‘welsynsgeval’ is nie,” verduidelik McMillan.

Klere wat vir jonger kinders ontvang word, word volgens McMillan gestoor vir gevalle waar nie-regeringsorganisasies (NRO’s) statutêre maatskaplike werkers verwyderings doen en hulle benodig klere vir kinders, aangesien hierdie kinders dikwels met net die klere op hul rug verwyder word.

Die maatskaplike werkers kontak in sulke gevalle vir McMillan om te kom haal wat hulle nodig het.

Ons beheerliggaam het ook die besluit geneem om ‘n projek vir Novembermaand te bedryf waartydens blikkieskos ingesamel sal word, wat dan in kospakkies verpak sal word vir gesinne in nood. Die doel is om nie net vir ons leerders te sorg nie, maar die gesinstruktuur, aangesien hulle as die hoofondersteuningstruktuur vir ons leerders moet dien. Gebroke gesinne skep gebroke kinders, wat tot gebroke volwassenes lei, en die siklus gaan voort. Daarom poog ons om ons jeug te genees sodat ons die volgende generasie kan red,” vertel McMillan.

Ondernemings en individue wat belangstel om tot Vereeniging Gimnasium se klereboetiek by te dra kan McMillan by 072 461 2248 skakel.

Gimmies se klereboetiek. Foto: Christiaan Cloete

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button