News

Boere bid vir reën

Dit het sedert die biddag in Desember darem al heelwat gereën.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (13 – 19 Desember 2024) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING – Boere van die Suikerbos-distrik het op Saterdagoggend 7 Desember by die Goeiehoek Silo’s bymekaar gekom om te bid vir reën.

Dit volg te midde van ‘n ongekende droogte wat groot gedeeltes van die land, sowel as die landbougemeenskap, lam gelê het.

Die geleentheid is by die Suikerbos Distrik Boere Unie (DBU) se saal gehou en tientalle mense het die biddag vir reën bygewoon.

Die geleentheid is deur die Suikerbos DBU gereël. Dominee Barry van Schalkwyk het ‘n kort diens gelei.

Boere bid in Desember vir reën. Foto: Christiaan Cloete

Met die Vaaldam se vlakke wat onlangs tot onder 30% gedaal het en die land wat erg gebuk gaan onder die El Niño-weerverskynsel van 2023-2024 het die distrik se boere saamgekom om vertroosting en krag deur middel van gebed te soek.

Van Schalkwyk het tydens die diens uit Psalm 33 voorgelees, wat die besoekers herinner het aan God se voorsienigheid, selfs in die mees uitdagende omstandighede.

‘n Reënbui sak op 27 Desember naby die Vaaldam uit. Dit het sedert die biddag in Desember darem ‘n bietjie gereën. Foto: Christiaan Cloete

Van Schalkwyk het in sy preek gesê dat die omstandighede waaronder boere gebuk gaan die landbougemeenskap saam in gebed verenig het.

Mark McIntyre, voorsitter van die Suikerbos DBU het aan Vaalweekblad gesê: “Ons het vandag ‘n biddag vir reën gereël weens die verskriklike droogte wat ons in die gesig staar, nie net in ons distrik nie, maar ook regoor die land.”

Die boere het gevoel ons moet bymekaarkom en ons afhanklikheid aan die Here bevestig. Ons moet gaan soek waar ons hulp vandaan sal kom, en dit sal van die Here af kom.”

McIntyre het die benarde situasie waarin boere hulle bevind benadruk.

‘n Seun bid vir reën tydens ‘n biddag in Desember. Foto: Christiaan Cloete

Dis ‘n wesenlike probleem, want die planttyd is besig om uit te loop en behalwe die planttyd wat uitloop is die beskikbare weiding ook besig om te kwyn. Dit is nie net die saaiboere (wat swaar trek nie), maar ook die veeboere. Daar is nie spaar kos nie en vleispryse is onder druk. Dit plaas ‘n verskriklike finansiële las op die boere,” sê McIntyre.

Na afloop van die diens het die eenheid en onwrikbare geloof van die gemeenskap ‘n sprankel hoop te midde van ‘n onsekere toekoms vir landbouers gebied.

Boere bid vir reën. Foto: Christiaan Cloete
‘n Boer bid vir reën tydens ‘n biddag in Desember. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button