News

Metz-broers, ma spandeer Kersfees buite tronk

Hulle is in April verlede jaar skuldig bevind, maar nog steeds nie gevonnis nie.

*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (13 – 19 Desember) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir die jongste plaaslike nuus.

BENONI – Die Metz-broers en hul ma het die afgelope Kersfees buite die tronk geniet.

Die broers, Raymond Metz, Shane Metz, Simon Anton ‘Babatjie’ Metz en hul ma, Lindi Falch, is reeds in April skuldig bevind aan die moord op Ben Lotz (52) van Leeuhof, maar is nogsteeds vonnisafwagtend.

Hoewel hulle reeds in die hof skuldig bevind is aan Lotz se moord, is hul borgtog verleng.

Hulle het Dinsdag, 10 Desember weer vlugtig in die rondgaande hooggeregshof in Benoni verskyn, maar die saak is uitgestel nadat dit aan die lig gekom het dat adv. Charles de Beer, wat tot dusver as regsverteenwoordiger vir die broers en hul ma opgetree het, nie meer die pad saam met hulle sal kan stap nie.

Vaalweekblad het in Julie verlede jaar berig dat daar blykbaar nie meer geld is vir die broers en hul ma se regskostes nie, gevolglik sloer die saak.

Dit volg nadat Jannie van Staden, Falch se verloofde, wat tot dusver Falch en haar seuns se regskostes bygebring het, nie meer kan bekostig om vir die hofsaak te betaal nie.

Die broers en hul ma het intussen by die regshulpraad gaan aanklop vir regshulp, maar regsverteenwoordigers moet nog aan hulle toegeken word.

Die saak is amper in die stadium waar daar met voor-vonnisverrigtinge kan begin word, maar daar word blykbaar ook nog gewag vir voorvonnisverslae wat deur maatskaplike werkers van die staat saamgestel moet word.

“Die vonnisoplegging in hierdie saak moet voltooi word. Ek dink julle het begrip vir die ernstigheid, sowel as die dringendheid van hierdie saak getoon. Dankie dat julle die regshulpraad genader het sodat die hof ten minste ‘n soort terugvoering oor hierdie saak (die voor-vonnisverslae) kan kry. Ongelukkig is daar nie enige iemand wat vandag namens julle optree nie, wat ‘n groot jammerte is, maar dit lyk ten minste of die regshulpraad doen wat hulle kan,” het regter Carla van Veenendal gesê.

Sy het die saak tot 15 Januarie 2025 uitgestel.

Lindie Falch het van die geleentheid gebruik gemaak om die regter en die hof ‘n geseënde Kersfees toe te wens.

“Geseënde Kersfees en mag die Here julle almal seën,” het Falch vanuit die beskuldigdebank gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button