News

June Harmse, ‘n stormjagter van formaat

Sy lewe daarvoor om storms te jaag.

VANDERBIJLPARK – June Harmse (37), ‘n passievolle stormjagter van die Vaaldriehoek, wen gewildheid op sosiale media met haar asemrowende foto’s van storms, dramatiese wolke en kleurvolle lugfoto’s.

June, wat in China gebore is en op 14-jarige ouderdom na Suid-Afrika verhuis het, se liefde vir wolke, storms en die hemelruim kom al van kleins af.

Een van June se indrukwekkende foto’s van weerligstrale.

Sy onthou hoe haar ouma haar as kind betower het met stories oor die sterre.

“Ek was nog altyd lief vir die lug bo ons en die hemelruim,” vertel June.

June Harmse met ‘n storm in die agtergrond.

Haar passie is in 2021 aangewakker toe sy tydens ‘n hoëveld-donderstorm probeer het om weerlig op ‘n foto vas te vang.

“Dit was ongelooflik en toweragtig. Ek is sedertdien vasgevang in hierdie stokperdjie,” vertel sy.

Stormjaag is natuurlik nie sonder sy risiko’s nie.

June onthou die dag toe ‘n weerligstraal enkele meters van haar af geslaan het.

“Vir ‘n sekonde het ek gedink dit is die einde. Dis gevaarlik, maar ek is mal daaroor om buite te wees in storms – dis waar ek lewendig voel,” vertel sy.

June Harmse met weerligstrale in die agtergrond.

June, wat al 23 jaar in Suid-Afrika woon en reeds 15 jaar saam met haar man JJ Harmse en hul twee kinders in Vanderbijlpark bly, glo die hoëveld van Suid-Afrika – en spesifiek Vanderbijlpark – is een van die beste plekke vir stormjaag weens die dramatiese luglandskappe wat elke nou en dan hul verskyning maak.

Gewapen met haar betroubare Huawei fone – ‘n P10 Pro en ‘n P40 Pro – neem June gereeld haar foto’s op die pad.

“Fone is geriefliker as my swaar kamera. Storms is onvoorspelbaar, en my foon is altyd binne bereik.”

Onweerswolke in die lug bo Vanderbijlpark.

Haar treffende foto’s en video’s, wat gereeld aanlyn gedeel word, gaan dikwels viraal op sosiale media en hou kykers regoor die wêreld geboei.

“Ek deel my foto’s om mense te inspireer om weer in voeling met die natuur te kom,” verduidelik June.

“In vandag se tye spandeer ons soveel tyd binnenshuis, en baie ervaar die buitelewe alleenlik deur foto’s. Ek wil hulle herinner aan die skoonheid van die natuur.”

‘n Kleurvolle wolklandskap, vasgevang deur die lens van June Harmse.

Wanneer jy June vra oor die mees onvergeetlikste dinge wat sy al op foto’s vasgevang het, vertel sy die staaltjie van die vlermuis wat herhaaldelik in van haar stormfoto’s opgeduik het.

Met die onlangse hoëveldstorms wat dramatiese skouspelle in die lug opgelewer het, hou June haar foon gelaai en gereed vir die volgende jaagtog.

“Ek is so dankbaar vir die storms – hulle bring die magie in die lug na vore.”

Volg June Harmse Storm Chaser op sosiale media om die krag en skoonheid van die natuur deur haar lens te ervaar.

Weerligstrale, vasgevang deur die stormjagter, June Harmse.
Interessante wolkformasies bo Vanderbijlpark.
Onweerswolke pak saam.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button