Die Departement van Water en Sanitasie sê die Vaaldam se vlak het in slegs ‘n week se tyd met 21.9 persentasiepunte gestyg.
Volgens ‘n verklaring wat Woensdag deur die departement uitgereik is het die vlak in ‘n week se tyd van 24.3% tot 46.2% verbeter.
Volgens Wisane Mavasa, ‘n woordvoerder vir die departement van water en sanitasie, is dit nie meer nodig om water van die Sterkfontein Dam af na die Vaaldam te herlei nie.
Dié plan sou in werking getree het indien die Vaaldam se vlak tot onder 18% gedaal het.
“Hoewel die dam die afgelope paar maande ‘n voortdurende afname ervaar het weens verhoogde temperature wat gelei het tot verhoogde verdampingsverliese, en weens die lae invloei na die dam weens gebrek ‘aan reënval in die Vaal-opvanggebied, is daar nou ‘n goeie invloei danks onlangse reënval in die Vaaldam opvanggebied,” sê Mavasa.
Volgens Mavasa wys die aanduidings dat die Vaaldam se vlak tot bo 50% kan styg.
Die stygende vlak van die Vaaldam het ook die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel, wat water aan Gauteng en sleutelbedrywe in die provinsie voorsien, ‘n hupstoot gegee.
