News

Slimkop Francois ‘n sanger en klavierspeler van formaat

Dié veelsydige slimkop is ook lief vir die kunste en musiek.

VEREENIGING – Francois Jenkins, die Hoërskool Overvaal se top matrikulant van 2024, is nie net ‘n slimkop nie maar ook ‘n begaafde sanger en klavierspeler.

Francois het ‘n indrukwekkende sewe onderskeidings in verlede jaar se Nasionale Senior Sertifikaateksamen behaal en droom daarvan om ‘n argitek te word.

Hy is op pad na die Universiteit van Pretoria, waar hy argitektuur gaan studeer.

Francois Jenkins op die verhoog, met mikrofoon in die hand.

Hy het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, geografie, ingenieurs grafika en ontwerp (IGO) en fisiese wetenskap.

Francois se talente strek wyer as net die klaskamer.

Hy het in sy matriekjaar by verskeie musiekkompetisies, insluitend die Eisteddfod, die Alberton Kunstefees en die Show Your Talent-kompetisie geskitter in sang en op instrumentele vlak.

Die jongman, wat al van sesjarige ouderdom af sing, het die afgelope twee jaar ook die klavier, kitaar en dromme bemeester.

Francois Jenkins speel die klavier.
Francois Jenkins sing al van sesjarige ouderdom af. Foto: Vaalweekblad Argiewe

Nou dat hy tyd het om te besin oor sy matriekjaar beklemtoon hy die belangrikheid van balans en effektiewe tydsbestuur tydens dié allerbelangrike skooljaar, wat so ‘n wesenlike impak op leerders se toekoms het.

Om sy studies te bestuur, het Francois gefokus op sleutelaspekte van sy werk deur gebruik te maak van highlighters en gereeld hersiening gedoen.

Vir fisiese wetenskap, sy meer uitdagende vak, het Francois staatgemaak op gratis YouTube video’s eerder as ekstra klasse.

Francois Jenkins.

As dit by ontspanning kom, het hy hom tot dans (line dancing) en musiek gewend.

Hy het selfs Duits tydens sy matriekjaar geleer om weg te kom van die boeke.

Sy gunsteling vak, IGO, strook perfek met sy loopbaanaspirasies.

Francois, wat grootgemaak is deur sy moeder Jacqueline Jenkins, ‘n enkelma wat by ‘n gesinsingenieursfirma werk, skryf sy sukses toe aan haar onwrikbare ondersteuning, asook die toegewyde onderwysers en ondersteunende vriende by Hoërskool Overvaal.

“Dit was net moontlik deur God se genade,” sê hy.

Francois moedig studente ook aan om vrae te vra en hulp van onderwysers te soek indien nodig.

Francois Jenkins van HS Overvaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button