News

Fietsryers trek saam buite Vanderbijlpark

Die provinsiale Tydtoets en Padfietsrykampioenskappe het vir groot opwinding gesorg.

LINDEQUESDRIF – Fietsryers van Gauteng, Vrystaat en Noordwes het verlede naweek op Vaaloewer in Lindequesdrif saamgetrek vir die gekombineerde provinsiale Tydtoets en Padfietsrykampioenskappe.

Die kampioenskappe naby die Gauteng/Noordwes-grens, het vir groot opwinding gesorg.

Die aksie het op 18 Januarie met die tydtoetskampioenskappe begin.

Fietsry aksie by Lindequesdrif. Foto: Christiaan Cloete

Elite-fietsryer Callum Ormiston het die oorwinning in die elite afdeling behaal in die 27.7 km-wedren en die uitdagende roete (met hoogtetoename van 288m) in ‘n indrukwekkende tyd 35:07 voltooi.

Brandon Downes het net agter hom geëindig in 35:18, terwyl Noordwes se Gideon Geldenhuys die derde plek behaal het met ‘n tyd van 40:46.

Pedri Crause in aksie tydens die individuele tydtoets. Foto: Christiaan Cloete

In die elite-vrouekategorie het Lucy Young die eerste plek beklink met ‘n tyd van 43:53, gevolg deur Alexandra Claassen in 45:43.

Ongelukkig was daar geen derde plek in hierdie kategorie nie.

Ryno Schutte en Joshua Dyke, gee albei hul bes in die pylvak van die tydtoets. Foto: Christiaan Cloete

Sondag het ‘n o23-jaer die vertoning gesteel in die uitdagende padwedren oor 163.62km (met ‘n hoogtetoename van 1 764m).

Pedri Crause (22) het die afdeling vir mans gewen en die algehele oorwinning in beide die o23- en elite-kategorieë behaal.

Fietsry aksie by Lindequesdrif. Foto: Christiaan Cloete

Blaine Kieck (4:06:27) en Saterdag se tydtoetskampioen Callum Ormiston (4:06:53) het die podium in die elite-afdeling voltooi.

In die vroue-afdeling het Lisa Bone as oorwinnaars uit die stryd getree, met haar Enzo Construction-spanmaat Melisa Kretzinger wat die tweede plek behaal het.

Melisa Kretzinger en Lisa Bone wat onderskeidelik die tweede en eerste plek in die wedren vir elite dames behaal het. Foto: Verskaf

Tydtoetswenner Lucy Young het die podium afgerond met ‘n sterk derde plek.

Fietsry-entoesiaste kan volgende maand uitsien na meer opwinding wanneer die 2025 Suid-Afrikaanse Pad- en Tydtoetskampioenskappe by Café du Cirque in Daleside plaasvind.

Die kampioenskappe is geskeduleer vir vroeg Februarie.

Die o23-fietsryers. Van links: Blaine Kieck, Pedri Crause en Matthew Symm. Foto: Verskaf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button