MEYERTON – Hy is lief vir kinders en sy passie is om leerders te help om hul volle potensiaal te ontsluit.
Só sê Gert Potgieter, die nuwe hoof van Destinata Skool, ‘n toonaangewende remediërende instansie in Golfpark wat voorsiening maak vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
Die skool het vir Potgieter in die laaste termyn van 2024 as hoof verwelkom, ná die aftrede van sy voorganger en jarelange skoolhoof André Lottering.
As gesoute onderwyser met dekades van ondervinding in die onderwys, is Potgieter nie ‘n vreemdeling tot die Destinata Skool óf die onderwys nie.
Hy werk al die afgelope 14 jaar by Destinata Skool as onderwyser, sedert hy in Julie 2010 ‘n pos hier aanvaar het en het boonop verlede jaar as hoof waargeneem.
Potgieter, ‘n gebore en getoeë Vaaldriehoeker wat in Vanderbijlpark grootgeword het en aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer het, se reis in die onderwys het by Pinedine Primary School in Vanderbijlpark begin, waar hy begin werk het nadat hy sy onderwyskwalifikasie aan die Potchefstroomse Onderwyskollege verwerf het.
Hy het by verskeie skole gewerk tot hy in 2010 sy weg tot by Destinata Skool gevind het.
Destinata Skool, wat graad R tot 12 aanbied, spesialiseer in die ondersteuning van leerders met leergestremdhede (of “leergeremdhede” soos wat dit daar genoem word).
Met 440 studente, 43 opvoeders en 20 terapeute, verseker die skool se klein klasse van ongeveer 15–16 leerders, ‘n pasgemaakte opvoedkundige ervaring.
Die instelling spog met ‘n robuuste hulpafdeling, insluitend spraak-, arbeids- en remediërende terapiedienste, en het ‘n merkwaardige 100% matriekslaagsyfer oor die afgelope vyf jaar behaal (insluitend 2024).
“Elke kind het potensiaal,” sê hy.
“Ons missie is om leerders te help om hul volle potensiaal te sien en in hulself te glo. Met die regte ondersteuning kan enige uitdaging oorkom word.”
As hoof streef Potgieter daarna om ‘n kultuur van vriendelikheid, empatie en geduld te kweek.
Hy sê hy is ook daartoe verbind om onderwysers se passie vir onderwys weer aan te wakker en te verseker dat leerders hul regmatige plek in die samelewing verstaan as individue wat ‘n verskil kan maak.
Terwyl Potgieter optimisties is oor wat vir hom voorlê, erken hy die uitdagings, insluitend om wanopvattings oor die skool se aanbiedinge aan te spreek en ouers te help om hul kinders se behoeftes te verstaan.
Met ‘n nalatenskap van suksesvolle alumni, insluitend geoktrooieerde rekenmeesters en ingenieurs, is Destinata Skool gereed vir voortgesette sukses onder Potgieter se leiding.
“Onderwysers is die argitekte van leerders se drome en ons is besig om drome en hul toekoms binne hierdie mure te vorm,” sê hy.
Dié toegewyde familieman, wat al die afgelope 22 met ‘n onderwyseres van Pinedine Primary School getroud is en ‘n 14-jarige seun het wat by Hoërskool Driehoek skoolgaan, put inspirasie uit die suksesverhale van leerders wat bo hul omstandighede uitgestyg het, ten spyte van die uitdagings wat hulle eens in die gesig gestaar het.
