*Die berig het in die gedrukte weegawe van Vaalweekblad (24 Januarie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING – Daar is blykbaar steeds geen teken van ‘n plaaslike sakeman wat op 17 Januarie ontvoer is nie.
Junaid Hoosen, eienaar van Elegant Auto Group Car Sales in Duncanville, is na bewering deur vier mans oorval en in ‘n voertuig geboender.
Volgens ‘n plasing op sosiale media het die ontvoerders in ‘n 3-reeks BMW met Hoosen gevlug.
Lede van die publiek is gevra om op die uitkyk te wees vir so ‘n voertuig.
Rudolf Laurens, bestuurder (dealer principal) van die motorhandelaar in Generaal Smutsweg in Duncanville, wou Dinsdag nie Vaalweekblad se vrae rakende die voorval beantwoord nie.
Volgens Laurens is hy deur ondersoekbeamptes van die polisie aangeraai om enige plasings oor die voorval van Facebook af te verwyder en nie met die media te praat terwyl die ondersoek voortduur nie.
Laurens sê hy is deur ondersoekbeamptes van die polisie aangeraai om enige plasings oor die voorval van Facebook af te verwyder en nie met die media te praat terwyl die ondersoek voortduur nie.
Laurens het wel aan Vaalweekblad bevestig dat Hoosen nog nie gevind is nie.
Vaalweekblad het ook navrae aan die polisie gerig. Luitenant-kolonel Mavela Masondo, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê dat die polisie later op Vaalweekblad se navrae sou reageer.
*Die polisie het nog nie op navrae gereageer nie.

Die voorval volg skaars ‘n paar maande na die ontvoering van Irfaan Dadabhay, ‘n sakeman wat in Augustus by sy onderneming in Smutslaan in Vereeniging se middestad ontvoer is.
Dadabhay is laat in Oktober deur sy ontvoerders vrygelaat nadat ‘n losprys betaal is.
Hy is tydens die ontvoering raakgeskiet en moes ‘n operasie ondergaan vir ‘n beenbreuk wat hy opgedoen het.
Ontvoerings soos dié is glo aan die toeneem in Suid-Afrika.
Volgens ‘n verslag van Statistiek SuidAfrika was daar in 2022/2023 meer as 15 000 ontvoerings in Suid-Afrika met die grootste hoeveelheid van hulle in Gauteng (7 000) en die tweede meeste in KwaZulu-Natal (3 000).
Vaalweekblad het in 2022 ook berig oor Zaheer Asmal, die eienaar van Fred’s Hardware in De Deur, wat op die oggend van 24 Februarie 2022 voor sy winkel ontvoer is.
Asmal is later ongedeerd by ‘n huis in Lenasia gevind en sy ontvoerders in hegtenis geneem.

