MEYERTON – “Sy mis dit om te sing. Dit is vir haar erg om dit nie te kan doen nie, omdat sy so ‘n feisty persoon is.”
Só sê Pieter White, eggenoot van die bekende plaaslike sanger, liedjieskrywer en sangafrigter, Lea White, ook bekend onder haar verhoognaam Lee Luka.
Lea sterk aan nadat sy vroeg vanjaar ‘n ligte beroerte gehad het.

Die beroerte wat Lea op 10 Januarie gehad het, het haar spraak, sowel as motoriese funksies in haar skryf hand en regterbeen aangetas.
Volgens Pieter het Lea op die betrokke dag gekla oor ‘n verlies van sensasie (‘n “naalde en spelde” gevoel) in haar arms.
“Sy het gesukkel om op haar foon te tik en het gedisoriënteerd gevoel,” vertel Pieter.
‘n Paar uur later was Lea se regter arm heeltemal verlam en sy het gesukkel om haar regterbeen te beweeg.
Lea is in die Vereeniging Mediclinic opgeneem, waar daar bepaal is dat ‘n aar wat haar hart voed vernou het en dat dit is wat die disoriëntasie veroorsaak het.
Lea het toe behandeling ontvang om die verstopte aar oop te maak.
Sy was bykans ‘n week in die hospitaal, waarna sy ontslaan is.


Lea sterk tans by die huis aan. Sy ontvang spraakterapie en doen rehabilitasieoefeninge.
Pieter vertel dat Lea heelwat vordering maak. Daar is egter nog ‘n lang pad tot herstel wat voorlê.
Dit is volgens Pieter moeilik om te bepaal hoe lank die herstelproses kan neem.
“Enige iets van ‘n paar weke tot ses maande. Lea is ‘n regte fighter, so ons vertrou dat sy spoedig sal herstel,” sê Pieter.
“Sy is baie moeg en haar energievlakke is nog laag. Die gebruik van haar hand en arm is al baie beter en sy kan al lekker loop,” verduidelik Pieter.
Volgens hom sukkel Lea nog om te praat.
“Dit klink by tye of sy met ‘n Hollandse aksent praat en dit is vir haar moeilik om wat sy ervaar in woorde uit te druk. Elke dag sien ons egter al hoe meer vordering,” sê Pieter.
“Sy gaan deur ‘n moeilike tyd. Sy wil baie graag weer sing,” vertel hy.
White besit die Love 2 Sing Vocal Training Centre in Meyerton waar sy jong sangtalent slyp.


