Inwoners van Leeuhof ‘in die duister’ oor krag
Vleis wat in vrieskaste gestoor is het al gevrot.
VEREENIGING – Inwoners van Leeuhof het Woensdagoggend na die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se depot in Duncanville opgeruk vir antwoorde oor die voortdurende kragonderbreking.
Volgens ‘n inwoner is hulle al sedert Maandagoggend 07:15 sonder krag en sonder antwoorde.
“Leeuhof is ‘n arm gemeenskap. Wat van die vleis in die mense se vrieskaste? Hier koop mense hul vleis vir die maand. As daai vleis vrot raak is daar nie meer geld om ander kos te koop nie,” het ‘n ander inwoner gesê.

Wat inwoners vies maak is die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se kommunikasie aan inwoners rakende die kragonderbreking.
“Ons wil graag weet hoekom die krag af is, wat dit veroorsaak het, wat gedoen word om die probleem aan te spreek en wanneer die krag weer aan gaan kom. Deur vir ons bloot te sê dat daar ‘aan die probleem gewerk word’ is eenvoudig nie goed genoeg nie,” het ‘n inwoner aan Vaalweekblad gesê.
*Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het eers laat Woensdagmiddag ‘n verklaring uitgereik waarin inwoners ingelig is dat die kragonderbreking deur ‘n kabelfout veroorsaak is.
“Tegnici het die fout opgespoor en herstelwerk word gedoen. Indien alles goed verloop behoort die kragtoevoer vandag herstel te word,” het Emfuleni in die verklaring gesê.

