Hardloopgogga byt radioaanbieder
Zander Steyn sê sy nuwe oefenroetine het ‘n positiewe uitwerking op sy gemoed en sy lyf gehad.
VANDERBIJLPARK – Die bekende radio omroeper Zander Steyn het vier maande gelede begin hardloop nadat ‘n dokter hom gewaarsku het dat hy ter wille van sy gesondheid ‘n leefstylskuif sal moet maak.
Hy is deesdae fikser, gesonder en sê hy geniet elke oomblik van dié reis na ‘n gesonder leefstyl.
Zander sê: “As iemand vir my bietjie meer as vier maande terug gesê het dat ek die pad gaan aandurf en dit só gaan geniet sou ek vir hulle gelag het. Ek was super onfiks en ongemaklik oorgewig.”

“Ek het een Sondag wakker geword, my tekkies aangetrek en letterlik net gaan draf.”
Zander vertel dat die eerste keer vir hom baie moeilik was.
“Ek het maar baie gestap. Dit was die eerste kilometer wat ek aangepak het. Dit was egter die begin van ‘n langtermynverhouding met die teerpad.”
Deesdae is draf deel van Zander se oggendroetine.
“Sodra ek opstaan is dit tande borsel, drafklere- en skoene aantrek en dan is ek uit by die hek. Mens voel so goed na die tyd. Jou brein is sommer skoon gehardloop, dinge werk net daagliks beter.”

Volgens Zander het hy verlede jaar gesondheidsprobleme ontwikkel wat tot ‘n health scare gelei het.
“Dit was benoude dae, maar dank Vader was dit nie so erg soos wat ons gedink het nie. Die dokter het wel vir my mooi vertel hoe ongesond ek is,” vertel hy.
Volgens Zander is hy ook deur ‘n vriendin, wat op ‘n gewigsverliesreis van haar eie gegaan het, geïnspireer om te begin oefen.
“Om te sien hoe goed Sheila (die vriendin) lyk, het my geïnspireer om my luiheid te laat staan en iets begin doen, min wetend hoe baie ek dit sou geniet.”
Zander sê hy is besig om die vrugte van sy nuwe lewensstyl te pluk.

“My cholesterol is af en my bloeddruk lyk deesdae baie goed. Ek het baie kilo’s verloor en dit is ‘n groot dryf om te sien hoe jou lyf al beter begin lyk.”
Psigies is hy deesdae ook op ‘n beter plek.
“My emosies is rustiger. Jy hardloop al jou angs uit en dit raak makliker. Dit is asof jou brein werklik ‘n kans kry om asem te haal,” sê Zander.
“Gister was vir my ‘n taai drafsessie. Toe wend ek my tot Facebook vir raad. Almal was so ondersteunend. Dit is ook baie motiverend om ander drawwers se stories te hoor van waar hulle begin het tot waar hulle nou is,” vertel Zander.
Zander sê die verste wat hy nog gedraf het is 5 km.
“Ek is seker ek sal verder kan hardloop, maar vir nou hou ek by wat vir my gemaklik is. Dit klink al lank, maar eintlik draf ek nog net vir vier maande.”

