News

Midvaal-entrepreneur genomineer vir gesogte toekenning

Sy is benoem vir die gesogte Entrepreneur van die Jaar-toekenning.

MEYERTON – Danelle Dryer, ‘n inwoner van Midvaal, entrepreneur, en ma van vier is genomineer vir die gesogte Woman of Stature-toekennings in die kategorie Entrepreneur van die Jaar.

Danelle sê sy was heeltemal uit die veld geslaan toe sy onlangs deur die Woman of Stature-toekennings gekontak is oor haar benoeming.

“Ek het geen idee gehad wie my benoem het, hoekom ek benoem is, of waaroor dit alles gaan nie. So, ek het na Charlotte du Plessis, die stigter van die Woman of Staturetoekennings, uitgereik om meer uit te vind,” sê Danelle.

Hoewel sy oorspronklik genomineer is in die Gemeenskapsdienskategorie, het ‘n bespreking met die organiseerders daartoe gelei dat sy eerder in die Entrepreneur van die Jaarkategorie geplaas is.

Danelle, die eienaar van twee plaaslike sakeondernemings, is ook die stigter van die Idube-stigting, ‘n plaaslike nie-regeringsorganisasie wat vroue in haar gemeenskap bemagtig met die ondersteuning van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en plaaslike besighede.

Deur haar stigting streef sy daarna om met behulp van plaaslike ondernemings en die munisipaliteit vroue op te hef en te ondersteun, om hulle te help om ‘n beter toekoms vir hulself en hul gesinne te bou.

Danelle Dreyer.

Danelle sien hierdie benoeming as ‘n fantastiese geleentheid om haarself te bemagtig en is gretig om die platform vir groei en sigbaarheid te benut.

“Ek voel ’n mens moet ’n verskil maak waar jy is. Ek is hier in die Vaaldriehoek geplant en probeer om hier ‘n verskil te maak,” het sy trots gesê.

Sy hoop ook dat die erkenning nuwe netwerk geleenthede en internasionale blootstelling vir haar en haar besighede sal meebring.

Lede van die publiek kan Danelle ondersteun deur aanlyn te stem by https://tinyurl.com/WOSVOTE-25

Stemme kos net R10 elk, slegs per kaart betaalbaar.

Stemming bly oop tot 31 Maart 2025, met die ranglys sigbaar tot die laaste dag.

Die wenners sal by die Gala-toekenningsdinee op 12 April by die Indaba Hotel, Spa en Konferensiesentrum in Johannesburg aangekondig word.

Danelle se toewyding en harde werk het haar hierdie welverdiende erkenning besorg, en die gemeenskap word aangemoedig om agter haar te staan terwyl sy om hierdie gewaardeerde titel meeding.

Danelle Dreyer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button