News

Familielede dalk in Julie gevonnis vir 2021 moord

Nou dat hulle weer regsverteenwoordiging het kan die vonnisoplegging hopelik voortgaan.

BENONI – Vonnisprosedures in die Ben Lotz-moordsaak van 2021 kan nou hopelik voortgaan nadat die vier familielede wat aan Lotz se moord skuldig bevind is uiteindelik nuwe regsverteenwoordigers het.

Die broers Raymond Metz, Shane Metz, Simon Anton ‘Babatjie’ Metz en hul ma, Lindi Falch, het 4 Februarie vlugtig in die rondgaande hooggeregshof in Benoni verskyn.

Die vier is in April 2024 skuldig bevind aan die moord op Benjamin Lotz, wie hulle op 22 November 2021 die aand by sy huis gekonfronteer het.

Hulle is sedertdien vonnisafwagtend, terwyl hul borgtog verleng is.

Raymond Metz (21) praat met sy ma, Lindi Falch (44), wat koponderstebo in die beskuldigdebank sit na die skuldigbevinding. Foto: Christiaan Cloete

Dit het tydens ‘n hofverskyning in Julie verlede jaar aan die lig gekom dat die broers en hul ma se fondse opgeraak het, en dat hulle nie meer vir die dienste van advokaat Charles de Beer, hul vorige regsverteenwoordiger, kon betaal nie.

Nou is regsverteenwoordigers van die regshulpraad aangewys om die familielede met die laaste gedeelte van die hofsaak by te staan en kan die wiele van geregtigheid hopelik weer begin draai.

Regter Carla van Veenendal het die saak vir 30 Junie tot 4 Julie uitgesit.

Dit behoort genoeg tyd te gee vir die beskuldigdes om evaluerings deur maatskaplike werkers te ondergaan.

Hierdie evaluasies sal gebruik word om voorvonnisverslae saam te stel, wat ‘n deurslaggewende rol sal speel in die bepaling van hul finale vonnisse.

Intussen is al vier beskuldigdes op borgtog tot hul volgende hof verskyning.

Die verhoor het oor die afgelope drie jaar verskeie vertragings ervaar, tot die frustrasie van die slagoffer se familie.

Met vonnisoplegging wat nou vir die middel van die jaar geskeduleer is, sal alle oë op die hof wees om sy finale uitspraak te lewer.

Raymond Metz met sy donkerbril wat hy in die hof dra om epileptiese aanvalle te voorkom. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button