Privaatspeurder se dood: Vuilspel uitgeskakel
Na aanleiding van die bevinding van die nadoodse verslag kan vuilspel uitgeskakel word.
VANDERBIJLPARK – ‘n Nadoodse ondersoek het meer lig gewerp op die raaiselagtige dood van ‘n omstrede privaatspeurder wat in Augustus verlede voor ‘n kroeg in CE1 inmekaar gesak het terwyl hy vir die polisie weggehardloop het.
Elandré (Allie) Alberts is op 18 Augustus dood nadat hy omstreeks 19:00 in die straat voor Andante’s Pub inmekaar gesak het.
Alberts was blykbaar deur die polisie agternagesit omdat hulle vermoed het dat hy in besit van ‘n onwettige vuurwapen was.
Volgens sersant Sabelo Sigcu, ‘n polisiewoordvoerder, het Alberts gevlug en tydens die jaagtog inmekaar gesak.
Paramedici het hom later op die toneel dood verklaar.
Volgens ‘n verslag van die staatspatoloog is Alberts dood aan bloeding op die brein (intracerebrale bloeding).
Dit gebeur wanneer ‘n bloedvat in die brein bars, wat veroorsaak dat bloed in die omliggende breinweefsel lek.
Dit kan lei tot breinskade, verlies van bewussyn en selfs die dood.
Die nadoodse verslag bring ‘n einde aan bespiegeling en valse gerugte wat op sosiale media versprei is rakende Alberts se dood.
Alberts se familie het op sosiale media die polisie se weergawe van gebeure betwis.
Alberts was gereeld in die nuus, dikwels vir die verkeerde redes.

