Maloka wéér Sedibeng se burgemeester
Eers het die raad haar met 'n mosie van wantroue uit die kussings gelig, nou het die raad haar weer as burgemeester ingestem

VEREENIGING – Sowat drie weke nadat die ANC-burgemeester van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit, Lerato Maloka, met ‘n mosie van wantroue uit die kussings gelig is, is sy Dinsdag weer as burgemeester ingestem.
Maloka en die DA se Prudence Hlanyane is tydens Dindsag se spesiale raadsvergadering van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit by die Vereeniging-burgersentrum, as kandidate genomineer, waarna stemming plaasgevind het.
Maloka het met 25 stemme gewen. Hlanyane het 24 stemme gekry.
Maloka is drie weke terug, tydens ‘n raadsvergadering in Januarie, uit die kussings gelig nadat 26 raadslede teen haar gestem het en 21 raadslede vir haar gestem het.
Verlede week, toe ‘n nuwe burgemeester ingestem moes word, is raadslede ontruim nadat iemand pepersproei of traangashouers in die raadsvergadering afgesit het.
Stemmery kon egter Dinsdag voortgaan.