News

Bedrogsaak sloer ná prokureur trekpas kry

‘n Nuwe prokureur is aangestel.

PRETORIA – Die lankverwagte pleitverrigtinge in die saak van die Vereenigingse sakeman Andries Marx (46), sy vrou en voormalige televisiepersoonlikheid Henriette Marx (43), asook medebeskuldigde, Paul Louis McIntyre (44), kon op 24 Februarie nie in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof voortgaan nie.

Dit volg nadat Andries Marx ter elfder uur ‘n nuwe regsverteenwoordiger aangestel het om hom in die saak te verdedig en daar gevra is vir uitstel sodat hy met die nuwe regsverteenwoordiger kan konsulteer.

Vaalweekblad verneem dat Marx se voormalige prokureur, Neville Minnie, die trekpas gekry het.

Marx het met ‘n nuwe prokureur, JC van Zyl, by die hof opgedaag.

Andries Marx, voormalige direkteur by Yellow Star Manufacturing (YSM).

Hoewel die saak geskeduleer was vir pleitverrigtinge en die verhoor, het Henriette Marx, ‘n voormalige aanbieder van die kykNETleefstylprogram Net Koffie, en haar medebeskuldigdes skaars ‘n paar minute in die hof spandeer voor die saak uitgestel is.

Tot die frustrasie van diegene wat gretig is om geregtigheid te sien geskied, is die saak nou uitgestel tot 7 April.

Die trio staar ‘n verbysterende lys van aanklagte in die gesig, insluitend veelvuldige aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery, wat verband hou met ‘n uitgebreide R32m-skema waarmee fondse van Yellow Star Manufacturing (YSM), die maatskappy by wie Marx ‘n direkteur was, verduister is.

Henriëtte Marx, voormalige aanbieder van die kykNet-reeks Net Koffie. Foto: Henriëtte Marx/Facebook

Hanno van Dyk, ‘n sakeman, het die klagtes teen hulle gelê.

Die bewerings dui daarop dat Andries Marx, ‘n voormalige direkteur by YSM, fakture en bankbesonderhede met McIntyre gemanipuleer het om maatskappyfondse na entiteite wat deur die egpaar beheer word te kanaliseer.

Marx, deur haar maatskappy Coffee Excellence (Edms.) Bpk., staar ook beskuldigings in die gesig vanweë voordeel uit onwettige transaksies.

Toe die trio die hofsaal verlaat het, het Henriette Marx, skynbaar geïrriteerd met die intense openbare belangstelling wat die saak tot dusver ontlok het, opgemerk: “Nou gaan ons seker weer in die media wees.”

Gegewe die omvang van die beweerde bedrog en haar vorige celebrity status, was sy heeltemal reg.

Paul McIntyre is ‘n medebeskuldigde in die saak.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button