News

Belowende jong atleet kwalifiseer vir SA’s, kort finansiële hulp

Sy benodig finansiële hulp om dit tot in Kaapstad te maak vir die ASA Kampioenskappe.

MEYERTON – Maruzé Marais, ‘n talentvolle o15-atleet, het haar plek by die Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Ouderdomsgroep Kampioenskappe verseker.

Die gesogte byeenkoms sal van 27 tot 30 Maart by die Groenpunt-stadion in Kaapstad plaasvind.

Maruzé, ‘n veelsydige atleet, het gekwalifiseer vir beide die 90m hekkies en die 300m hekkies.

Terwyl ASA se Gauteng Kampioenskappe eers hierdie komende naweek by die Pilditch-stadion in Pretoria plaasvind, het Maruzé reeds haar plek by die ASA Ouderdomsgroep Kampioenskappe verseker met haar indrukwekkende vertoning tydens die onlangse D7 Kampioenskappe by die DP de Villiers-stadion in Sasolburg.

Maruzé Marais, ‘n veelsydige o15-atleet van Meyerton. Foto: Christiaan Cloete

Ondanks haar merkwaardige prestasie, het haar ma, Anneke, haar kommer uitgespreek oor die finansiële druk om die reis te befonds.

“Ek het na akkommodasie gekyk net vir die tydperk van 27ste tot die 30ste, en dit sal meer as R7 000 kos. Dan is daar brandstof, wat waarskynlik in die omgewing van R5 000 sal wees,” het Anneke aan Vaalweekblad gesê.

“Die totale koste sal waarskynlik tot sowat R12 000 beloop, sonder om selfs etes vir die drie dae in ag te neem,” het sy bygevoeg.

Anneke erken dat dit vir haar moeilik is om vir finansiële hulp te vra, maar sy glo dit is nodig om haar dogter die geleentheid te gee waarvoor sy so hard gewerk het.

“Maruzé is regtig besig om te blom, veral met die hekkies. Ek voel sleg om vir hulp te vra, maar sy verdien hierdie kans.”

Enigiemand wat finansiële hulp kan verleen, kan Anneke kontak by 079 837 4571.

Direkte inbetalings kan ook in Anneke se Capitec-bankrekening gemaak word. Die spaarrekeningnommer is 161 736 1621.

Maruzé Marais. Foto: Annamarie Heyneke

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button