News

Amper weer tyd vir jaarlikse paaseierjag!

Die jaarlikse paaseierjag is ‘n hoogtepunt vir Leeuhof se kinders.

VEREENIGING – Die jaarlikse Leeuhof Paaseierjag, ‘n geliefde tradisie in die gemeenskap, vind vanjaar op 21 April gedurende die Paasnaweek plaas.

Die paaseierjag wat deur Anne-Marie Slabbert en haar geregistreerde niewinsgewende organisasie, Mekayla Memorial NPC gereël word, het ten doel om vreugde aan die kinders van Leeuhof – ‘n gemeenskap wat diep deur armoede, sowel as alkohol en middelmisbruik geraak word – te bring.

Anne-Marie het die Mekayla Memorial NPC in 2013 gestig ter ere van haar dogter, Mekayla Slabbert, wat op 29 Oktober 2010 tragies op die ouderdom van drie in ‘n fratsongeluk naby Leeuhof Café oorlede is, nadat sy deur ‘n vragmotor getref is.

Me. Anne-Marie Slabbert. Foto: Christiaan Cloete

Anne-Marie bied met behulp van haar organisasie beide die paaseierjag en ‘n jaarlikse kerspartytjie ten bate van Leeuhof se kinders aan.

“As deel van ons poging om vreugde en hoop na die kinders in ons gemeenskap te bring, gaan ons eerskomende April ons jaarlikse paaseierjag aanbied,” het Anne-Marie gesê.

“Hierdie gekoesterde geleentheid bied plaaslike kinders die kans om in ‘n veilige en feestelike omgewing bymekaar te kom, saam te lag en Paasfees te ervaar.”

Sowat 250 kinders sal na verwagting aan vanjaar se paaseierjag deelneem. Anne-Marie soek borge om die geleentheid ‘n sukses te maak.

Die jaarlikse paaseierjag is ‘n hoogtepunt van die jaar. Foto: Christiaan Cloete

Sy het ‘n beroep op plaaslike besighede in individue gedoen om bydraes te maak.

Bydraes kan paaseiers, lekkergoed, koeldrank, finansiële skenkings, versierings, pryse en vermaak insluit.

Borge sal volgens Anne-Marie erkenning ontvang deur hul logo’s op geleentheidbaniere en pamflette ter bemarking van die geleenheid te druk.

Mense of besighede wat belangstel om hierdie inisiatief te ondersteun, kan vir Anne-Marie ‘n booskap via WhatsApp stuur by 082 492 9172 of e-pos mekaylamemorialnpc@ gmail.com.

“Jou ondersteuning sal nie net glimlagte op die gesigte van honderde kinders sit nie, maar ook jou verbintenis met die gemeenskap wat ons dien versterk,” sê sy.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button