News

KYK: Pampoenkoning se reis van passie en geduld

Hy neem hierdie jaar iets anders na die Goliat van Gat Pampoenfees.

MEYERTON – Vir byna ’n dekade is Wykus Lamprecht, ’n elektromeganikus van die Vaaldriehoek, ’n dominante naam in die wêreld van reuse-pampoene.

Sy tamaai pampoen, Liesbet, het in 2023 rekords by die Goliat van Gat Pampoenfees laat spat met ’n ongelooflike gewig van 890kg.

Vanjaar bring hy egter iets anders—’n reuse-skorsie met die naam Selah.

Anders as sy vorige oranje kampioene, het Selah ’n groenagtige kleur.

Volgens Wykus klassifiseer die Great Pumpkin Commonwealth (GPC) reëls enige skorsie wat 100% groen, blou of grys is as ’n skorsie, terwyl pampoene ’n tikkie geel, wit of oranje moet hê.

Vanjaar het my pampoensaad nie ontkiem nie, maar ek het ’n sterk skorsiesaadjie gehad, so ek het besluit om haar te kweek,” verduidelik hy.

Wykus het vir bykans 160 dae sy skorsie soos ‘n kind versorg. Foto: Christiaan Cloete

Selah, vernoem na ’n misterieuse Bybelse term wat dikwels aan die einde van verse in Psalms en Habakuk voorkom, simboliseer vir Wykus ’n oomblik van nadenke.

Hierdie reis van reusegroente kweek is vol hoogtepunte en laagtepunte. Selah herinner my om stil te staan en die proses te waardeer,” sê hy.

Alhoewel hy moontlik nie vir prysgeld in aanmerking sal kom nie, hoop Wykus dat Selah ’n nuwe skorsierekord kan opstel.

Hy skat haar gewig op sowat 655kg, maar bly oop vir verrassings.

Selah is vernoem na ’n misterieuse Bybelse term wat dikwels aan die einde van verse in Psalms en Habakuk voorkom

Skorsies word gewoonlik nie so groot soos Giant Atlantic Pampoene nie, maar ons sal sien wat die skaal sê.”

Om ’n reuse-groente te kweek is geen maklike taak nie. “Dis soos om ’n kind groot te maak,” lag Wykus.

Jy het passie, geduld en goeie grond nodig. Sonder die regte fondament, sal jou plant nie floreer nie.”

Wykus Lamprecht van Meyerton met sy wenpampoen Liesbet, waarmee hy ‘n rekord by die Goliat van Gat Pampoenfees opgestel het. Foto: Facebook
Wykus Lamprecht, ‘n driemalige wenner van die Goliat van Gat Pampoenfees het ‘n ding vir reusagtige plante. Foto: Facebook

Weerstoestande was vanjaar onstuimig, met ’n kombinasie van uiterste hitte en swaar reën wat kwekers landwyd uitgedaag het.

Die grootste uitdagings was bestuiwing, meeldou en witvlieë,” deel hy.

Dit is nie maklik om sy voltydse werk by ArcelorMittal met sy pampoenpassie te balanseer nie.

Hy gebruik CCTV kameras en ’n outomatiese besproeiingstelsel om sy plante te monitor en versorg, met sy ma wat soms help.

Sy toewyding is duidelik in sy noukeurige voorbereiding.

Wykus in sy 90 vierkante meter groentetuin. Foto: Christiaan Cloete

Om Selah te vervoer, gaan ’n senuweeslytende affêre wees.

Om haar op die sleepwa te laai met ’n hyskraan is altyd stresvol. Een verkeerde beweging, en maande se werk is verlore.”

Wykus se pampoenreis het beskeie meer as ’n dekade gelede begin, toe hy verstom was oor die grootte van reusepampoene by ’n skou.

Sy eerste poging, Zotti, was ’n skamele 109kg. Elke jaar het hy groter en beter gegroei, wat gelei het tot rekordbrekende sukses.

Met meer as 50 inskrywings wat vanjaar by die Goliat van Gat Pampoenfees verwag word, bly die kompetisie straf.

Sal Selah almal verras? Die antwoord wag op Saterdag, 15 Maart, by die Ou Motorklub in Silverton (100 Fred Daveylaan).

*Kry die gedrukte weergawe van Vaalweekblad op Vrydae vir meer plaaslike stories soos dié.

Selah die skorsie. Foto: Christiaan Cloete

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button