Aanrandingsake teen Midvaal-raadslid glo laat vaar
Die aanrandingsake wat teen Gerrit Viljoen, 'n raadslid van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, gelê is het toe skynbaar 'n muis gebaar.

MEYERTON – Midvaal-raadslid Gerrit Viljoen sê hy is vry van twee aanrandingsklagte wat soos ‘n donker wolk oor sy kop gehang het, nadat twee sake glo teen hom teruggetrek is.
Viljoen, ’n voormalige burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid en Paaie en raadslid vir Wyk 13, is in Desember 2023 krimineel aangekla vir die beweerde aanranding van die 20-jarige Sifiso Dlomo met ’n ketting.
In September 2024 is hy weer van aanranding beskuldig, dié keer deur die 24-jarige Xolisile Mokoena. Mokoena het beweer dat Viljoen hom aangerand het nadat hy geweier het om as ’n informant op te tree. Hy het ook beweer dat Viljoen hom gedwing het om ’n stemboodskap op te neem waarin hy die aanranding ontken.
Die sake het groot openbare reaksie ontlok, met die ANC in die Midvaal sub-streek en SANCO wat die eerste voorval as ’n ‘rasse-aanval’ veroordeel het en ’n beroep op Midvaal se burgemeester, Peter Teixeira, gedoen het om op te tree.

Na die Desember 2023-beskuldigings is Viljoen in Junie 2024 uit die burgemeesterskomitee verwyder. Nietemin het Teixeira Viljoen se bydraes tot die munisipaliteit erken.
Nou, met albei sake wat blykbaar teruggetrek is, volhou Viljoen dat hy valslik beskuldig is.
Hy het aan Vaalweekblad gesê dat hy Midvaal se speaker genader het vir duidelikheid oor die saak.
“Sommige mense het my skuldig bevind nog voordat die saak sy gang gegaan het,” het hy gesê.

Volgens Viljoen het die polisie hom ingelig dat die klaers hul klagte teruggetrek het en glo erken het dat hulle oorreed is om die klagtes te lê.
Viljoen het sy frustrasie uitgespreek oor die skade wat die beskuldigings aan sy reputasie aangerig het.
“Daar hang steeds ’n wolk oor my kop, en baie mense glo steeds die bewerings. Ek is uitgebeeld as ’n rassis, maar ek is nie,” het hy verklaar.
Viljoen beplan nie om regstappe te neem teen diegene wat hom beskuldig het nie. “Wat gaan ek bereik deur hulle te vervolg? Ek wil net hê mense moet weet dit was nooit die waarheid nie. Dit was onsin. Dit was SANCO en die ANC wat agter my aan was.”

Polisiewoordvoerder konst. Tlaleng Moloi het nog nie bevestig dat die sake teruggetrek is nie, hoewel Vaalweekblad al aan die begin van Februarie ‘n navraag oor die sake aan haar gestuur het.
Alan McLoughlin, speaker van die Midvaal Plaaslike Munisipalieit, sê die munisipaliteit het geen verdere terugvoer van die polisie of die departement van justisie ontvang oor die klag wat teen Viljoen gelê is nie en beskou die saak dus nou as afgehandel.
“Die feit dat daar blykbaar geen verhore gehou is nie, dui waarskynlik daarop dat die staatsaanklaer geweier het om met ‘n verhoor voort te gaan,” sê McLoughlin.
“Ek persoonlik is deur beide die plaaslike ANC en SANCO genader, wat albei geëis het dat dissiplinêre stappe en skorsing van diens teen raadslid Viljoen gedoen word. Ek het aan hulle verduidelik dat tensy die Hof hom aan ‘n misdryf skuldig bevind of tensy een van hulle bewyse aan my kan lewer wat die aanklagte wat by die SAPD gelê is of die ander bewerings wat hulle teen hom gemaak het staaf, ek nie ‘n behoorlike klag teen hom vir ‘n dissiplinêre verhoor kan formuleer of voldoende gronde aan die Burgemeester kan voorlê om sy skorsing te motiveer nie,” sê McLoughlin.
“Alhoewel beide die ANC en SANCO aangedui het dat hulle in besit was van al die nodige bewyse, kon nie een van hulle enigiets anders as ongesteunde en onbevestigde bewerings lewer nie,” sê hy.
