News

‘Geen foto’s van vermeende tansitorowers’ las Vanderbijlpark-landdros

Geen foto's van die verdagtes mag in die hof geneem word nie.

VANDERBIJLPARK – ‘n Landdros van die Vanderbijlpark-landdroshof het Dinsdag Vaalweekblad belet om foto’s van vier vermeende transitorowers in die hof te neem.

Die mans, Ntsete Mokoena (49) van Evaton, Petrus Sedikane Mofokeng (40) van Sharpville, Kaghiso Mhlangu (48) van Roodepoort en Thamsanqa Jimlanda (44) van Evaton het Dinsdag vlugtig verskyn op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, sowel as die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Die mans is aangekeer in verband met ‘n transitorooftog in die Sedibeng-distrik op Saterdag 8 Maart, waartydens R1.3 miljoen kontant, drie selfone en ‘n 9mm pistool gesteel is.

Vaalweekblad het voordat hofferigtinge begin het ‘n skriftelike aansoek ingedien sodat ons openlik oor hofferigtinge kan berig en foto’s van die beskuldigdes kan neem, voor en ná die hofsitting aan die gang is, om te verseker dat die neem van foto’s nie ontwrigting veroorsaak nie.

Die staatsaanklaer, Nelisiwe Thabethe, het aangedui dat die staat nie teen die versoek gekant is nie.

Die beskuldigdes se prokureur, Godfrey Mohohlo, het egter beswaar aangeteken aangesien die verdediging van plan is om die identiteit van die beskuldigdes in dispuut te plaas.

Moholo het gesê dat die publikasie van foto’s van die beskuldigdes “grondwetlik aanstootlik” (“constitutionally offensive”) sou wees en die beskuldigdes se reg tot ‘n regverdige verhoor kan benadeel.

Dit was die tweede hofverskyning van die beskuldigdes. Hulle het die eerste keer op 10 Maart verskyn en moet nog pleit.

Landdros, Claudia Venter, het gelas dat sy in hierdie stadium nie foto’s gaan toelaat nie, “ten minste nie tot die beskuldigdes se borgaansoek nie”.

Dit het in die hof aan die lig gekom dat een van die beskuldigdes ‘n vorige veroordeling van betreding het en ‘n ander ‘n vorige veroordeling van diefstal. Dit is tans onbekend of die derde beskuldigde enige vorige veroordelings het.  Die ondersoek duur voort. Die vierdie beskuldigde het geen vorige veroordelings nie.

Die saak is uitgestel tot 26 Maart vir die staat om die adresse van beskuldigde #2 en beskuldigde #3 te verifieër en om ‘n profiel van beskuldigde #3 in die hande te kry.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button