Klagtes oor bouvallige vulstasie
Naburige inwoners sê die verwaarloosde vulstasie lok ongewenste elemente.

VEREENIGING – ‘n Voormalige vulstasie in Nile-rylaan in Drie Riviere het ‘n bron van frustrasie geword vir inwoners wat meen dit is ‘n oogseer en ‘n teelaarde vir misdaad.
Die eienaar van die eiendom, Mohamed Latif, lê egter die skuld vir vertragings voor die deur van die Departement van Minerale Hulpbronne en die plaaslike munisipaliteit.
Die eens besige vulstasie is nou oorgroei met gras en rommel.
Die struktuur lok ook swerwers, bedelaars en straatsmouse.

Inwoners, insluitend Johan en Theresa Rautenbach, het dit by die munisipaliteit aangemeld, maar beweer niks word daaraan gedoen nie.
Latif, wat die eiendom blykbaar 22 maande gelede gekoop het, benadruk dat hy nie beplan om dit te laat verval nie.
Hy wil dit in ‘n moderne Engen-vulstasie omskep, maar het teen burokratiese struikelblokke vasgeloop.

“Ons en Engen het reeds miljoene in dié projek belê,” het hy gesê.
Die eerste vertraging het volgens Latif van die Departement van Minerale Hulpbronne gekom, wat Latif verplig het om heraansoeke vir sy sy terreinen kleinhandelpermitte te doen.
“Dit het 17 maande geneem om daardie twee stukke papier te kry,” het hy gesê.
Die permitte is in Mei 2024 uitgereik, waarna Latif in Julie planne by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ingedien het.
“Ons wag steeds vir goedkeuring. Ons is vasgevang by die eerste van agt stappe.”

Engen het die bouwerk geskeduleer, maar moes ander projekte prioritiseer weens die vertragings.
Die munisipaliteit het ook bykomende logistieke besonderhede geëis, ten spyte daarvan dat die terrein voorheen as ‘n vulstasie gefunksioneer het.
Latif het ‘n huurder – ‘n smous wat aartappelskyfies en koeldranke verkoop – gekry om vandalisme te voorkom, aangesien sekuriteitskoste volgens hom tot R20 000 per maand beloop.
“As hy weggaan, sal die eiendom sekerlik gestroop word,” het hy gesê.


Ten spyte van die frustrasies bly Latif toegewyd.
“Ons het groot planne, insluitend ‘n moderne eenstop-vulstasie en moontlik ‘n Nando’s-inryrestaurant. Hierdie projek sal 22-25 werksgeleenthede skep. Maar ons hande is tans vasgebind.”
Inwoners hoop op ‘n oplossing, terwyl Latif voortgaan om vir munisipale goedkeuring te druk sodat konstruksie kan begin.
Vaalweekblad het navrae aan Makhosonke Sangweni, direkteur vir kommunikasie by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, gestuur om te probeer uitvind waarom die projek vertraag word.
Ons wag sedert 11 Maart vir terugvoer, maar sal die munisipaliteit se reaksie publiseer wanneer ons dit ontvang.

