Inwoners van Miemie Fourie Hof ‘suffer’
Baie van die inwoners sit al maande lank met toilette en geysers wat nie werk nie.
VEREENIGING – Inwoners van Miemie Fourie Hof, ‘n laekostebehuisingskema in Marklaan in die middestad, sê hulle leef in haglike omstandighede, met baie bejaardes en gestremde individue wat sukkel sonder behoorlike sanitasie of warm water.
Inwoners sê daar word feitlik geen herstelwerk gedoen nie en inwoners word aan hul eie lot oorgelaat in die vervallende gebou.
Dit ten spyte daarvan dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit verantwoordelik is vir instandhouding.

Marie Grobler (65), ‘n pensioenaris wat al vier jaar sonder ‘n werkende toilet is, beskryf haar swaarkry: “Met nommer een (urinasie) is dit nog reg, maar met nommer twee (defekasie) moet jy ‘n paar van daardie tien-liter emmers volmaak en optel om dit af te spoel. Dit is verskriklik pynlik.”
Marie, wat ‘n skoueroperasie ondergaan het, vind dit uiters moeilik om die swaar emmers te lig, maar die munisipaliteit eis ‘n doktersbrief voordat hulle ‘n alternatiewe woonplek oorweeg.
“Hoekom moet ou mense soos ons in sulke haglike omstandighede bly? Hoekom word ons geïgnoreer?” vra sy.

Marie is nie alleen in haar stryd nie. Verskeie eenhede het nie funksionerende geysers nie, wat inwoners dwing om ketels te kook om te bad.
Georgie Aylward (73), wat na haar bedlêende 99-jarige man, Coenraad Meiring, omsien, wag al vier jaar vir ‘n geyser.
“Om vir hom te sorg sonder ‘n werkende geyser is baie moeilik. Wanneer jy hulp vra, word jy eenvoudig geïgnoreer.”

Sonja Esterhuyzen (61), wat wag vir ‘n heupvervanging, het ook nie ‘n werkende toilet of geyser nie.
“Om my toilet te spoel, moet ek ‘n emmer drie keer volmaak. Die munisipaliteit sê hulle is bankrot. Ek is ook bankrot. Ek kry net ‘n SASSA-toelae.”

Die struktuur van die gebou is ook kommerwekkend. Tydens ‘n besoek was dit duidelik dat betonmure verkrummel en geroeste versterkingsstaal ontbloot is – ‘n teken van ernstige agteruitgang.
Elektriese drade hang los van die plafon af, en die lekke in die dak het daartoe gelei dat die boonste verdieping ontruim is..
Sommige inwoners beweer die gebou moes reeds in 2012 gesloop word.

“Hulle het vir ons gesê sommige van die woonstelle is te gevaarlik om in te bly. As dit die geval is, hoekom is ons nog hier?
So as die gebou inmekaar stort, moet dit maar net stort?” vra Marie bitter.
Inwoners het hulp gevra by burgerregtegroepe en opposisiepartye, maar sê hul pleidooie het tot dusvêr op dowe ore geval.
Omdat ons ou mense is wat hier woon, dink ek hulle wag net vir ons om te sterf, maar hulle gaan baie lank wag vir my om te sterf!
Soos een inwoner skerp opmerk: “Omdat ons ou mense is wat hier woon, dink ek hulle wag net vir ons om te sterf, maar hulle gaan baie lank wag vir my om te sterf!”
Totdat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit dringende ingryping verskaf, bly die inwoners van Miemie Fourie Hof vasgevang in ‘n nagmerrie van verwaarlosing en burokrasie.
Vaalweekblad het navrae oor die haglike omstandighede waarin inwoners hul bevind aan Makhosonke Sangweni, die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se hoof van kommunikasie, gestuur.

