News

Muso en Jijana kraai koning by 30ste Sasol Sasolburg Marathon

Dit was die 30ste aflewering van dié gewilde wedloop.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (4 – 10 April) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

SASOLBURG – Die 30ste aflewering van die Sasol Sasolburg Marathon het op 29 Maart plaasgevind, met atlete van regoor die land wat in byna perfekte weerstoestande meegeding het.

Die wedloop het vanjaar in mistige toestande by die DP De Villiers-stadion begin, die mis het net betyds opgeklaar, voor die voorste atlete by die stadion aangekom het.

Atlete het die Sasolburg Marathon en gepaardgaande wedlope in mistige toestande getakel. Foto: Christiaan Cloete


Katleho Muso van Cell C Atletiekklub het die mansmarathon in ’n indrukwekkende tyd van 02:28:17 gewen.

Plaaslike gunsteling en rekordhouer, Thabiso Mosekili van Actom Atletiekklub, het tweede geëindig in 02:28:35, terwyl Maharaswa Mofokeng van Carlton Atletiekklub die derde podiumplek 02:35:04 verower het.

Die waterpunte was soos gewoonlik een van die hoogtepunte van die jaarlikse Sasol Sasolburg Marathon. Foto: Christiaan Cloete
‘n Atleet gryp ‘n watersakkie tydens die Sasol Sasolburg Marathon. Foto: Christiaan Cloete


In die marathon vir vroue het voormalige Banyana Banyana-ster Rose Jijana van Actom Atletiekklub geseëvier met ’n tyd van 03:13:46. Wanda Britz (03:17:32) van Pan African Resources Atletiekklub en Lesley Austin (03:24:54) van Krugersdorp Road Runners het onderskeidelik tweede en derde geëindig.

Die halfmarathon is deur Mbuti Mollo gewen in ’n tyd van 01:08:28, terwyl Cornelia Joubert die vrouekategorie oorheers het met ’n tyd van 01:27:51.

Karin-Mari Dotze en Lucas Mphuthi neem deel aan die Sasolburg Marathon. Karin-Mari het die 10km vrouewedloop gewen. Foto: Christiaan Cloete


Die geleentheid het ook ’n 10km-wedloop en ’n 5km-pretloop ingesluit.

Die Sasol Marathon is bekend vir sy goeie organisasie en met sy lewendige verversingspunte, elke 3km, en sy plat wedloopprofiel bly die Sasol Sasolburg Maraton ’n gewilde kwalifiserende wedloop vir die Comrades Marathon.

Siegfriedt Heydenrych op pad na ‘n gemaklike sub 03:00:”00 marathon. Foto: Christiaan Cloete

Die roete, wat begin en eindig by die DP De Villiers-stadion, het hardlopers verby die Sasol-fabriek, Highveld Gardens en deur groen woonbuurte geneem, waar entoesiastiese vrywilligers gesorg het dat atlete genoeg water, koeldrank en ander verversings kry.

Volledige uitslae is beskikbaar by https://results.finishtime.co.za/

Jorge Marques van Sasolburg het eerste in sy oudersdomsgroep (50-59) geëindig. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button