News

Gedenkrit vir jong motorfietsryer wat sterf in tragiese ongeluk

Sy is dood toe ‘n bakkie agter in die motorfiets waarop sy een haar verloofde gesit het vasgeploeg het.

VANDERBIJLPARK – ’n Gedenkrit en -diens sal op 4 Mei plaasvind ter ere van Natasha Oosthuizen (20), wat tragies in ’n motorfietsongeluk op die Ou Johannesburgpad in Vereeniging op die aand van 28 Maart gesterf het.

Oosthuizen was ’n passasier op ’n Regal Raptor 350-motorfiets, wat sy net twee weke tevore van haar verloofde, die 21-jarige John Hunt, ontvang het vir haar verjaarsdag.

Die paartjie, wat reeds drie jaar saam was en onlangs verloof geraak het, was op pad huis toe, na Duncanville, toe ’n bakkie met hul motorfiets gebots het.

Die ongelukstoneel in Ou Johannesburgweg in Vereeniging.

Natasha is van die motorfiets afgeslinger en op die toneel dood verklaar.

John is ernstig beseer en moes met behulp van lewenskake (Jaws of life) uit die voertuig bevry word. John het meer as twee weke in die hoësorgeenheid van Sebokeng-hospitaal deurgebring voordat hy op 15 April ontslaan is.

Volgens sy ma, Petro, het hy kopbeserings opgedoen en sukkel hy steeds met gedeeltelike gesigverlamming, gehoorverlies en probleme om vaste kos te sluk.

“Hy praat baie sag. Daar lê nog ’n lang pad van herstel voor,” het sy gesê. Die familie het John aanvanklik nie van Natasha se dood ingelig nie, totdat hy self begin vra het na haar in die hoësorgeenheid.”

“Hy is soos sy pa — wys nie maklik emosie nie — maar die klein dingetjies wat hy sê, wys hoe swaar hy dit vat,” vertel Petro.

Wyle Natasha Oosthuizen.

Die paartjie was besig om aan te sluit by die Wild Bunch Motorfietsklub, waarvan Petro en haar man George ook lede is.

Natasha sou binnekort haar kenteken ontvang het.

Vaalweekblad verstaan die klub sal haar kenteken postuum tydens die gedenkdiens oorhandig.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Die bestuurder van die bakkie, Hannes Hamilton, het reeds in die hof verskyn in verband met die ongeluk.

Vir meer inligting oor die gedenkrit, kontak Charne ‘Vlam’ Martin by 060 625 8824 of Petro Hunt by 071 191 0668.

Die ongelukstoneel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button