Meyerton-skietery: Dwaalkoeël tref leerder – ouers in rep en roer
Die leerder is in sy knie getref.
MEYERTON – ‘n Hoërskoolleerder van die Hoërskool Dr. Malan is gering beseer toe hy deur ‘n dwaalkoeël getref is.
Na verneem word het die koeël eers ‘n sementblad getref, waarna dit opgespring het en die leerder in die knie getref het.

Talle ouers het Dinsdagoggend voor die skool saamgedrom om hul kinders te kom afhaal, uit vrees vir hul veiligheid. Ouers is intussen in ‘n boodskap op WhatsApp gerus gestel.
“Alles is veilig by Hoërskool Dr. Malan. Die kinders is veilig in hulle klasse. Polisie is in beheer. Ons gaan normaal aan met skool. Ons stel ouers in kennis indien daar enige verwikkelinge is, lui die boodskap.”


Die skietery het vanoggend by die taxi-rank uitgebreek. Die polisie is steeds op die toneel in Meyerton se middestad waar die voorval afgespeel het.
Lees Vaalweekblad se oorspronklike berig hier.
Met Vaalweekblad se besoek aan die toneel het patroondoppies in Lochstraat besaai gelê.
Volgens ‘n ooggetuie was die middedorp in chaos kort ná die skote geklap het. “Mense het begin hardloop en winkels het hul deure toegemaak,” het die persoon gesê.
Die polisie het teen druktyd nog nie bevestig of enige verdagtes in hegtenis geneem is nie.
Vaalweekblad volg die situasie op en sal lesers op hoogte hou van enige verdere ontwikkelings.

